GRAAFF-REINET NUUS - "Ek roei more reënmeter toe," laat weet een van Aberdeen se inwoners ná nog 'n hewige reënbui uitgesak het.
Die totale reënval gemeet in Aberdeen vir Januarie 2022 was 31 mm, soos aangeteken deur André Marais, eienaar van De Denne.
Op Dinsdag 17 Januarie vanjaar, ná 'n hewige donderstorm, is daar op verskeie plekke op die dorp tussen 28 tot 34 mm gemeet. Sedertdien het nog reënbuie uitgesak met 22 mm die naasmeeste reën in een storm op Sondag 22 Januarie. Op 25 Januarie staan die totaal vir Aberdeendorp vir Januarie nou op 76 mm. Dit is meer as dubbel vir die hele maand verlede jaar en die maand is nog nie om nie.
In Lotusville, Thembalisizwe en Aberdeen is die grondpaaie totaal versadig met verskeie gedeeltes wat vol water staan. Lotusville se inwoners kla tereg al jare lank oor die gebrek aan behoorlike strate. Die bestaande infrastruktuur is gebrekkig, maar dit lyk nie asof die plaaslike owerheid enige opgraderingsplanne vir die afsienbare toekoms het nie.
"Man, van die begin af het hulle hier in gedeeltes net 'n padskraper ingestuur om kamma pad te maak, maar g'n pad is ooit gebou nie – dis net rou grond wat geskraap is. En so lyk dit vandag nog. Daar is hier en daar 'n plaveiselstraat wat met bewilligde geld gebou is, maar dis net vir die 'eye blind', soos onse mense sal sê," gesels 'n jare lange inwoner van Lotusville terwyl hy voel-voel in die modderwater loop.
Hy verduidelik dat, wanneer dit reën soos dit nou reën, man en muis daaronder ly. "Kinders moet skool toe. Weet jy hoe lyk hulle skoene by die tyd wat hulle by die skool aankom? Mense moet werk toe loop. Hier is grootmense soos ek wat nog werk, maar hoe loop 'n ouman of -vrou in die gemors sonder om te val?" Hy sê dadelik dat dit nou nie is dat hy ondankbaar wil klink oor die immer welkome reën nie. Glad nie! "Ek wens net die munisipaliteit wil vir ons strate gee!"
Elders in die dorp gesels mense oor die reën, lekkende dakke ná die lang droogte en die grondpaaie wat wissel tussen klein riviere en miniatuur mere. Een van die nuwe intrekkers sê sy is steeds verstom dat 'n stofstraat oornag kan verander in 'n sterk stroom. 'n Ander skerts dat sy darem nou ander dele van die dorp ook sien wanneer sy winkel toe moet gaan. "My voertuig is klein en laag, so ek moet maar ompaaie ry om by die winkel uit te kom."
Verseker bring juis hierdie nat Januarie 2023 hernude begrip en waardering vir die ikoniese digter van weleer, Eugene N Marais, se uitroep: "O, die dans van ons Suster!" in sy gedig.
Die dans van die reën. Dit is asof elke swaar bui wat hier in die Groot-Karoo uitsak, telkens die laaste strofe in Marais se gedig lewensgetrou beeldend skets:
En haar krale skud,
en haar koperringe blink in die wegraak van die son.
Op haar voorkop is die vuurpluim van die berggier;
sy trap af van die hoogte;
sy sprei die vaal karos met altwee arms uit;
die asem van die wind raak weg.
O, die dans van ons Suster!
Hier stop ons vir water in die straat. Foto's: Alex Lombaard
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'