GRAAFF-REINET — ‘n Staptog ter kankerbewusmaking word volgende naweek in Graaff-Reinet gehou!
Saterdagoggend, 21 Oktober om 09:00 sal alle belangstellendes saamtrek by die Botaniese Sportgronde in Graaff-Reinet om deel te neem aan die pretstap - gehou onder die vaandel van die Pink Trees for Pauline Graaff-Reinet-fondsinsamelingsinisiatief.
Die stap sal oor ‘n roete van 3.8km strek - ongeveer 5 000 treë - en word deelnemers genooi om die naam van ‘n geliefde, vriend of kennis wat ‘n stryd teen kanker gevoer het op ‘n lint te skryf, wat hul dan tydens die stap aan ‘n boom kan vasmaak ter herinnering van iemand wat die stryd verloor het, as ‘n simbool van hoop vir iemand wat dit tans veg, of as ‘n manier om vrede te maak met die stryd gevoer en oorwin vir dié wat self dit self baklei het.
Wie kan deelneem aan die stap?
Enigiemand is welkom om deel te wees van die stap - stappers is welkom om babas in stootwaentjies en kleuters met hul klein fietsies saam te bring, asook rolstoele.
Almal oud en jonk is welkom. Diegene wat wil deelneem, kan hul inskrywing bevestig deur die aankoop van ‘n pienk lint teen R10 elk vanaf Our Yard in Somersetstraat.
Linte sal ook op die dag aangekoop kan word.
Dié wat ‘n lint aanskaf word aangemoedig om dalk vir ‘n ekstra lint of twee te betaal om so toe te laat dat minderbevoorregte individue ook kan deel in die stap.
Stappers is ook welkom om ’n donasie vir kanker te maak.
Saterdag, 21 Oktober se program:
Aktiwiteite vir die dag sal Saterdagoggend om 08:30 begin met die samekoms van deelnemers, waarna die stap om 09:00 sal afskop.
Daar sal ná die stappery ’n geselligheid wees waar heerlike sosaties te koop gaan wees.
Die fondse geïn is als ten bate van die Graaff-Reinet en Distrik Kankervereniging se werk en uitreike in die plaaslike gemeenskap.
Die organiseerders hoop om ongeveer 5 000 linte te verkoop, so, indien jy nog nie jou lint gekry het nie, wys jou steun deur vandag nog by Our Yard ‘n draai te maak en joune aan te skaf!
Skakel André van Rensburg - organiseerder van die stap - by 071 870 5081 vir meer besonderhede of om uit te vind hoe jy of jou besigheid hierby betrokke kan raak.
• Pink Trees for Pauline t-hemde (teen R90 vir volwassenes en R74 vir kinder-groottes), pienk lap (teen R25 per meter) en linte (teen R10 elk) kan by Our Yard in Somersetstraat, Graaff-Reinet.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'