RUBRIEK - Ek en Oom Klaas sit elk op 'n klip in die yl winterson met 'n skraal yswindjie wat deur murg en been byt, maar ons bly sit.
So in die sit praat ons oor plaaslike manne wat tjeks met hulle monde skryf wat hulle lywe dan later nie kan betaal nie.
Net onlangs het een man hand en mond onderneem om iets van 'n buurdorp saam te bring – by herhaling het dit net nie gebeur nie; 'n ander adverteer gruis, maar lewer grond en klip af; nog een skilder 'n briljante idee, bekom befondsing, maar lewer 'n heel ander eindproduk; 'n ander kwoteer vir 'n projek en hou glad nie by die gekwoteerde tyd, materiaal of bedrag nie. Ek sug in moedeloosheid.
Net tóé druk-druk Oom Klaas my teen die skouer en beduie my om die vet, uitgegroeide akkedis op die klip naby ons te aanskou.
"Daarsy – kyk maar of jy van 'n skurwejantjie (akkedis) 'n krokodil kan maak. Al koester jy hom soos 'n goue Krugerrand, of al wetter jy hom dood; 'n krokodil sal hy nooit wees nie.
"En dis die ding met 'n uitgegroeide akkedis teenoor 'n baba-krokodil. Vir die ongeoefende of onwillige oog lyk die een strakkies nes die ander! Die verskil is: 'n babakrokodil van so 20 tot 30 cm lank kan enige tyd ernstige skade aanrig as hy jou net op die regte sawwe plek knyp met sy babatande, en hou hulle maar dop: hulle is oor die algemeen heel doeltreffend aggressief, hoor! Boonop is daar ruimte vir groei, né. Maar 'n skurwejantjie, al is hy heeltemal uitgegroei en buitensporig groot, byt dit eerder sy stert vas en kruip só weg of hy hol sommer heeltemal weg.
"Daar teen Tafelberg en aan die Kaapse Skiereiland kry jy 'n soort met die naam swartskurwejantjie, ook genoem sonkyker of ouvolk. Sy naam ouvolk is juis gegee omdat hy so baie soos 'n prehistoriese krokodil lyk. Hulle is oor die algemeen so 9 cm lank, maar daar in die ongerepte natuur kan hulle tot 30 cm lank raak. Besige goedjies, hoor – en vinnig! Slek net af in die winter, maar oorwinter glad nie. Immer aan die gang en dop dán hier uit en dán daar. Vind altyd 'n sonkolletjie. Maar as hy gevaar agterkom, is hy heel anders as krokodil se tjint - dan rol hy sy stert óm hom om hom te vermom, maar ook omdat sy stert gevaarliker is as sy kop.
"Nou hier is die ding: kyk mooi hoe 'n babakrokodil verskil van 'n uitgegroeide swart-skurwejantjie. En tog, vir die ongeoefende oog of oningeligte siel lyk die een nogal heel goed genoeg soos die ander. Dis maar eers as jy aandag gee, of as jy hom onder druk plaas, dat jy vinnig agterkom wie is wie: wie byt met potensiaal en wie hol weg.
"En dis wanneer 'n man moet weet as jy 'n sonkyker soek, dan kry jy vir jou 'n ouvolk. Maar as jy 'n ding met tande soek wat kan byt, dan kry jy vir jou 'n krokodil. Jy loop probeer nie om 'n skurwejantjie te verander in 'n krokodil nie, want jy maak net jouself tot gek en sonkyker sal so by so môre weer iewers uitdop om die son te soek.
"Nou toe, van sit in die son kom niks gedaan – laat ons die badkamer en die lig loop aanpak; ons IS mos dan self krokodille!"
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’