ABERDEEN NUUS - Die Aberdeen VLV-tak se mees onlangse vergadering het bestaan uit 'n mengelmoes van bydraes van elk van die VLV-tak se ses portefeuljes.
Suzanne Lategan het eers al die lede teenwoordig 'n toets laat aflê oor padtekens. Tot sekere lede se skok, het hul agter gekom dat daar minder algemene padtekens is wat hul glad nie ken nie.
Carina Esterhuizen het toe gedemonstreer hoe gevriesde deeg gebruik kan word om ‘n vinnige, smaaklike versnapperinge sonder moeite voor te berei. Sy het ook verduidelik hoe om olywe in te lê.
Hierna het Annalie Lategan die lede meer vertel oor die geskiedenis van kleur en die gebruik van die kleurwiel vir kuns, maar ook vir binnenshuise-versiering en selfs vir kleurkombinasies as jy aantrek, waarna Luise de Jager gesels het oor of kinders vandag nog genoeg respek het en wat van taalgebruik word met die invloed van sosiale media.
Elna van Niekerk het toe 'n bespreking gelei oor Eskom se verskillende tariewe vir landbou en hoe sekere tariewe wissel afhangende van die tyd van die dag en jaar wat die krag gebruik word.
Heidi Lombard het inligting gedeel oor 'Botox' en lede was verbaas om uit te vind dat dit meer vir mediese redes gebruik word as vir kosmeties behandelings.
Tydens die vergadering word Lucille van der Merwe as nuwe lid verwelkom en Estelle van Wyk as die wenner van die gelukkige trekking aangewys.
Die vergadering is afgesluit met heerlike eetgoed wat voorgesit is deur Suzanne Lategan en Lize de Jager.
Vegadering: Agter: Lucille van der Merwe, Carina Esterhuizen, Lea van der Vyver, Annalie Lategan, Lize de Jager, Estelle van Wyk en Luise de Jager. Voor: Jean Watermeyer, Elna van Niekerk, Suzanne Lategan en Judith Dardis.
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'