ABERDEEN NUUS - Die Februarie-vergadering van die Aberdeen VLV-tak was propvol leersame onderwerpe.
Lea van der Vyver het almal verwelkom waarna die sameroeper vir Openbare Sake, Suzanne Lategan, arbeidsake rondom die implimentering van die nuwe nasionale minimum loon aan almal teenwoordig verduidelik het.
Elna van Niekerk, die sameroeper vir Landbou en Tuinbou, se praatjie getiteld “Met die maan gepla”, het die lede toe ingelig oor wat die invloed van die verskillende maanfases op tuinbou is en watter tuintake wanneer gedoen moet word.
Sy het ook wenke gedeel vir ‘n groentetuin in ‘n pot.
Carina Esterhuizen, Leefstyl-sameroeper, het hierna lede behoorlik laat skaterlag met opruimingsghoeroe Marie Kondo se 8 lesse in opruiming van jou huis en klerekas.
Daarna vertel Luise de Jager, sameroeper van Opvoeding en Kultuur, die vergadering oor die Mexikaanse Kultuurfees, “Dia de Meurtos” - Die Dag van die Dooies. Tydens dié fees vereer die mense familielede wat afgesterf het, trek hulle kleurvolle uitrustings aan, versier hul gesigte soos kopbene en maak hul tradisionele kos.
Estelle Snyman bied toe namens Kunste en Handvlyt-sameroeper, Annalie Lategan, ‘n praatjie oor kreatiwiteit aan. Volgens Estelle, word elkeen kreatief gebore en die samelewing onderdruk dit soos mens volwasse word.
“Kreatiwiteit is nie net in kuns nie - dit is in alles wat ons aanpak en ons moet doelbewus fokus om kreatiwiteit te ontwikkel en uit te leef,” meen Estelle.
Gesondheid-sameroeper Adele de Jager deel toe inligting oor depressie en angsversteuring wat vandag so algemeen voorkom.
Elkeen ontvang toe ‘n pakkie met gesonde peuselhappies, asook ‘n lysie van die eienskappe van versteekte depressie om saam met hul huis toe te neem.
“Dit is belangrik om hulp te soek en met iemand te praat as jy depressief of angstig voel,” sê Adele.
Die vergadering is afgesluit met heerlike eetgoed en sap keurig voorgesit deur Heidi Lombard en Theresa van der Merwe.
Vergadering: Agter: Lucille van der Merwe, Carina Esterhuizen, Judith Dardis, Luise de Jager, Estelle van Wyk, Christelle Nel, Lize de Jager, Heidi Lombard, Theresa van der Merwe, Adele de Jager, Marié Swanepoel en Lea van der Vyver. Voor: Suzanne Lategan, Stephnie van Zyl, Anna Heroin en Elna van Niekerk.
Die heerlike eetgoed keurig voorgesit deur Heidi Lombard en Theresa van der Merwe.
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'