REDAKTEURSKOLOM - Soos klokslag het die gebruiklike skiet van klappers die pas afgelope Maandagaand, 5 November, in Graaff-Reinet weergalm.
Soos oudergewoonte was daar weer talle wat hul totaal en al aan die inhibisielose losbandigheid van die jaarlikse Guy Fawkes-vieringe oorgegee het.
Terwyl daar duidelik na Maandagaand se lawaai baie mense plaaslik is wat grootskaalse bewondering koester vir die geraas van dié veelkleurige hemelse uitspansel, was dit weer vir ander inwoners - en hul diere - baie traumaties.
Tesame met die donder van die kakofoniese ontploffings, het Facebook ook omtrent gegons.
Inwoners van Graaff-Reinet was ooglopend baie ongelukkig oor dit - die mense met diere en wat omgee vir diere was van opgeklits tot goed die duiwel in as mens na die op- en aanmerkings gekyk het.
Laat ek sommer met die intrapslag bely dat ek nie heeltemal immuun teen die verskynsel is nie.
Elke nuwe jaar is ek een van daai wat die kleurvolle vuurwerke by die kus om middernag staan en aanskou. En wie kan nou nie sê dat hul van kindsbeen af nie met die sogenaamde "starlights" gefassineer was nie.
Maar ek is ook 'n diereliefhebber - en dit is waar ek tot "bekering" gekom het nadat ek gehoor en veral gesien het wat die harde (en vir diere onverklaarbare) klapgeluide aan die gehoor van so 'n dier doen wat honderde kere fyner is as dié van 'n mens.
Wie van ons het nie al grufoto's gesien van honde wat hulself vermink het deur in hul blinde paniek te probeer weg kom van hierdie mini-wêreldoorlog wat hul ore aanval nie?
Alhoewel baie inwoners pleit dat die gebruiklike skiet van klappers, hetsy met Guy Fawkes, Oujaarsaand of enige ander vieringe, in die nou beroemde woorde van korrupte oud-kommissaris van polisie Jackie Selebi "finish en klaar" moet wees, is dit dalk net wensdenkery.
Met die streng reels en regulasies teen klappers koop, verkoop en skiet behoort die feesvieringe ook nie te erg te wees vir sensitiewe diere nie.
Maar, in hierdie wêreld van ons, gaan daar seker altyd die kwajongens wees wat straat af gaan hardloop met sakke swaar gelaai met klappers en die "hêppy Guy Fawkes"-kreet of diegene wat hul latente pyromanie wil bevredig wat dit as hul demokratiese reg sal sien om fees te vier soos hul goeddink.
Die meeste wat daar dalk voor gehoop kan word is dat die klapper-skieters dit net in oorleg met die omringende gemeenskappe sal doen sodat diegene met diere, die nodige reëlings kan tref.
Oujaarsaand is nietemin om die draai. Kry vir die honde of katte of papegaaie 'n kalmeerpilletjie of twee (sommer ook vir die gesin). Of pleeg oorleg met jou veeaarts.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'