GRAAFF-REINET NUUS — Die pas afgelope kongres van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Kultuurgeskiedenis wat op 1 en 2 September in Graaff-Reinet plaasgevind het, het interessante bydraes tot Graaff-Reinet se kultuurgeskiedenis opgelewer.
Van die referate het ’n seldame blik op die lewensverloop, psige en bydraes van baanbrekers soos Anna Neethling Pohl, Anton Rupert, Robert Sobukwe asook Karl Bremer weergegee.
Al bogenoemde persone het diep spore in Graaff-Reinet se geskiedenis getrap. Die sprekers het onder andere Ebbe Dommisse oud hoofredakteur van Die Burger, OJO Ferreira, Matilda Burden, Johannes Haarhoff asook Anziske Kayster ingesluit.
Soos genoem, het Anziske Kayster, hoof van die Graaff-Reinet Museum, hulde aan Robert Sobukwe en sy bydrae tot Graaff-Reinet se erfenis gebring deur verwysings na Sharpeville en die paswette in haar referaat te inkorporeer.
Historici van oor die land en belangstellendes van sovêr as Murraysburg en Limpopo het die kongres, wat ’n jaarlikse instelling is, bygewoon. Hulle het Johannes Haarhoff se interessante vertelling oor die spoorlyn na Graaff-Reinet baie geniet asook ’n interessante vertelling deur Lizeth Taljaard oor die wapadsroetes van Colesberg. Nuwe inligting is gedeel en die kongresgangers is deur die ervaring verryk. Volgens Theresa Troskie van die plaas Quaggasdrif, Murraysburg, was dit '’n absolute vreugde!'.
Die kongresgangers is Vrydagaand getrakteer op ’n kongresdinee in Reinethuis waar hulle Karoo-hartlikheid en ’n heerlike ete geniet het. Daar is ook bene gerek op die staptog deur die historiese kern van die dorp.
Dit het plaasgevind onder die bekwame leiding van Peter Whitlock, historiese argitek en voorsitter van die Trusteeraad van die Museum. Die kongres is afgesluit met ’n piekniek by die Vallei van Verlatenheid waar David McNaughton van Karoo Connections vrae oor fauna en flora, asook geologie, beantwoord het.
Die kongresgangers was uiters gewillig om hul kennis te deel. Alle belangstellendes wat sou belangstel om ’n kursus oor genealogiese asook argivale navorsing by te woon, kontak gerus die museum by 049 8925650.
Die kursus sal heel moontlik in Maart 2018 in Graaff-Reinet aangebied word.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'