GRAAFF-REINET NUUS - Op 99 sien een van Graaff-Reinet se voorste vroue, Issie Theron uit daarna om volgende jaar haar 100ste verjaarsdag te vier. Op die oggend van haar verjaarsdag, 19 Februarie, het tannie Issie Parsonage Street Home se personeel bedank vir die wonderlike partytjie wat hulle vir haar gehou het. "Ek voel soos 'n prinses."
Haar seun Pieter en ander geliefdes was ook daar om haar geluk te wens met die besonderse mylpaal. Pieter, haar enigste kind, het twee dogters en 'n kleindogter.
Tannie Issie, 'n nooi Vorster, is op 19 Februarie 1922 op Loxton gebore en sou later jare diep spore in Graaff-Reinet trap. Sy het na skool aan die Graaff-Reinet Onderwyskollege studeer en toe by Excelsior Skool in Port Elizabeth liggaamlike opvoedkunde gegee.
Sy is na 'n wyle terug na Graaff-Reinet om te trou met Piet Theron, en by haar alma mater, die onderwyskollege, spraak en drama aangebied. Tannie Issie het poppekasteater regoor die streek gehou en toneelopvoerings vir onder andere Rotary geskryf.
Issie Theron en haar man Pieter was 50 jaar getroud.
Reg deur haar lewe was sy betrokke by talle kuns- en kultuuraksies en is dan ook in 1993 deur die Oos-Kaapse Streekraad vir Kultuursake, met 'n spesiale toekenning vir haar bydrae vereer.
Sy het talle belangstellings, en was nou betrokke by blom- en plantfeeste soos die Roosskou op Cradock en die Fynbosfees op Humansdorp.
Na haar man se dood in 1993 - 'n huwelik van 50 jaar - het tannie Issie na Cape St. Francis verhuis en in 1994 begin rolbal speel om fisies en sosiaal aktief te bly. Sy het aanhou speel tot in haar vroeë 90's en op haar 90ste verjaarsdag het die plaaslike koerant geskryf: "Issie 90 and not out - and still bowling".
Sy het na Graaff-Reinet teruggekeer toe sy nie meer alleen kon bly nie.
Tannie Issie se peetdogter, Lala Hills en haar man James, wat in Port Elizabeth woon, het tannie Issie kort voor haar verjaarsdag besoek. Hulle het foto's van die kuier met die Advertiser gedeel en Lala kan nie uitgepraat word oor wat 'n wonderlike vrou haar tannie is nie - Lala se pa en tannie Issie se man was broers.
"Sy is merkwaardig en het soveel in haar lewe bereik. Sy het 'n passie vir lees en 'n wye algemene kennis. Sy het nooit ophou leer nie en in haar middeljare 'n graad deur Unisa verwerf."
Oor haar ouderdom het tannie Issie gesê: "99 jaar! Ek weet nie hoe ek daar gekom het nie!"
Maar almal wat haar ken, weet presies hoe... Met rasse skrede!
Nog net een jaar, dan is dit ‘n eeu!
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'