GRAAFF-REINET NUUS — Die rondloperperde in Graaff-Reinet se strate en woonbuurtes is lankal 'n seerpunt vir menige inwoners.
Talle berigte hieromtrent is al in die verlede deur die Advertiser gepubliseer en nog steeds is dit der einde niet
'n Paar besorgde inwoners het hierdie feesgety besluit 'n plan moet gemaak word hieromtrent.
Graaff-Reinet sal binnekort oorval word deur vakansiegangers wat hul weg deur die dorp maak en plaas dié rondloperdiere die motoriste en die diere self se lewens in gevaar.
Koppe is bymekaar gesit en vinnig is daar 'n kamp buite die dorp geïdentifiseer waar die perde tydens die besige seisoen veilig kan wei.
Die kamp is omhein om te verseker dat die perde nie wegglip nie en ook om hul uit die kloue van perdediewe te hou.
Daar is reeds met die eienaars van die perde hieroor in gesprek getree en is hulle almal ten gunste van die plan. Daar word beoog om binnekort die perde na die kamp te verskuif.
Die inwoners wat dié plan van stapel gestuur het, staar egter 'n groot probleem in die gesig, en dit is die voer van die diere.
Daar word gekyk na tientalle perde wat vir etlike weke gevoer moet word. Daar is beraam dat daar ongeveer 700 bale benodig sal word om die diere te voed oor dié tydperk.
Daar word 'n pleidooi gerig aan Graaff-Reinet se inwoners om hul harte oop te maak dié feesgetei en te help hiermee.
Diegene wat bale wil skenk word gevra om asseblief met Lize Breytenbach te skakel deur Whatsapp by 061 382 0336 of telefonies by 049 891 9082.
Bale is verkrygbaar teen R60 elk - diegene wat graag bale wil borg kan ook met Brytenbach in verbinding tree.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'