GRAAFF-REINET NUUS - Die Graaff-Reinet Botaniese-muurbalklub was bevoorreg om op Dinsdagaand, 30 Januarie, vir JP Brits, wat tans die nommer ses muurbalspeler in Suid-Afrika is, en sy broer Ettienne Brits, 'n provinsiale speler, as besoekers by die plaaslike muurbalbane in Graaff-Reinet te ontvang.
Die geleentheid is deur 12 lede en 'n paar besoekers bygewoon. JP is die geleentheid gebied om eerstens 'n paar strekoefeninge te verduidelik, waarna die broers 'n paar speel- en opwarmoefeninge verduidelik en gedemonstreer het; spelstrategie is ook bespreek.
"Klublede het ook 'n kans gekry om teen JP en Ettienne te speel en almal was dit eens dat dit 'n voorreg was om skouers te skuur met muurbalspelers wat op provinsiale, nasionale en internasionale vlak meeding," sê Kelvin Westraat, voorsitter van die Graaff-Reinet Botaniese-muurbalklub.
Enigiemand wat sou belangstel om muurbal te speel kan Westraat by kelvinwestraat@gmail.com of 082 502 6519 kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’