REDAKTEURSKOLOM DEUR MARëTTE BURGER - Ek het net dié week weer besef dat die museums in Graaff-Reinet van onskatbare waarde vir die dorp en gemeenskap is en ten alle koste bewaar moet word.
Met die intrapslag is die hoeveelheid items in die museums ietwat oorweldigend en kan jy jouself werklik vir ure lank daar verloor in die streeksgeskiedenis met interessante staaltjies van feitlik elke liewe museumstuk.
Een so stuk is 'n ystervarkpenhuisie wat by die Reinethuis te siene is wat mense van oor die wêreld heen lok.
JF Joubert, wat die ystervarkpenhuisie gebou het, het in Graaff-Reinet gewoon en was getroud met Magdalena Johanna Groenewald.
Hy en sy broer was transportryers wat ware van en na Port-Elizabeth vervoer het.
Terwyl hy as klerk gewerk het, het hy die idee gekry om 'n ystervarkpenhuisie te bou. In daardie dae was die ystervarke volop en die boere het hom van penne voorsien.
Hy het 40 000 spelde gebruik om dié huisie te bou.
Die huisie het 52 vensters, almal met gordyntjies.
As daar na dié enkele museumstuk en sy ryke geskiedenis gekyk word - in ag genome dat die geboue wat die Graaff-Reinet-museumkompleks uitmaak gevul is met tonne sulke stukkies erfenis - is die waarde wat dié museums vir ons as die bewaarders van kultuurgoedere en -bewussyn inhou, mos ongeëwenaar?
Die Graaff-Reinet-museumkompleks is 'n onlosmaakbare deel van die lewe op Graaff-Reinet. Tog, alhoewel talle inwoners daagliks daar verbyloop of -ry, is dit egter meestal toeriste wat daar besoek aflê.
Wanneer laas het jy 'n draai gemaak by een van Graaff-Reinet se vele museums?
Ek wil graag elke Graaff-Reinetter wat nog nie ons museums verken het nie, aanraai om dit te doen - 'n skatkis lê vir jou en wag…
Vir diegene wat jare laas besoek afgelê het, is dit nie weer tyd om 'n nostalgiese herinneringsreis te onderneem nie?
Die ystervarkpenhuisie wat tans by Reinethuis te siene is. Foto: Verskaf
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'