GRAAFF-REINET NUUS - Die Murray-familie het die afgelope naweek in Graaff-Reinet bymekaargekom om hulle formidabele voorvader, dr. Andrew Murray senior se aankoms in Suid-Afrika te herdenk.
"Die doel van die naweek se reünie was om die familie bymekaar te bring en die besondere boodskap wat deur ons voorouers na Suid-Afrika gebring is te hernu sodat ons vorentoe kan kyk met dieselfde geestelike insig," verduidelik Lizette Bisset, sekretaresse van die Andrew Murray Family Association.
Dr. Murray het na Suid-Afrika gekom met een teksvers, Jesaja 59:21: "Wat My betref, sê die Here, dit is my verbond met die volk: My Gees wat op jou is en my woorde wat ek in jou mond lê, sal nie uit jou mond en uit die mond van jou kinders en jou kindskinders verdwyn nie, nie nou nie en nooit nie."
Die Reinet-fees het Donderdagmiddag begin en Sondagmiddag geëindig.
300 by reünie
Die Reinet-huis was die tuiste van dr. Murray en sy gesin en daarom was dit dan ook die funksie se basis.
Feesgangers het 'n tent by die Reinet-huis opgeslaan waar hulle heerlik gekuier het. Daar was skouspelagtige musiekkonserte en die heerlikste maaltye is deur Graaff-Reinet se eie meestersjef, Hestie van der Mescht, voorberei.
Saterdagoggend het ds. Attie van Wyk van die sesde geslag van die Murrays-nagmaal op die berg bedien en daar is gedenkkerse aangesteek deur die jongste familielid van elke stamboom van die Murray-familie.
Die Wes-Kaapse kerkargief het 'n bespreking gelei waartydens kwotasies van dr. Murray getoonset is. Ds. Attie van Wyk het ook Sondagoggend die erediens in die NG kerk waargeneem en die kerkorkes het 'n ongelooflike mooi uitvoering gelewer.
Meer as 300 mense het die reünie bygewoon en volgens Bisset, het die Murray-fees haar grootste verwagtinge oortref.
"Ek is vandag 65 jaar oud en dit was die wonderlikste ervaring wat ek in 'n leeftyd gehad het. Dit was vir my 'n absolute voorreg om deel van so 'n geseënde byeenkoms te kon wees."
Bisset spreek haar dankbaarheid uit teenoor die Graaff-Reinet-gemeenskap wat hulle so ruimhartig ontvang het en veral teenoor Volkskool wat hul koshuis en skoolbussies aan die Murray-familie beskikbaar gestel het.
Wie was dr. Andrew Murray
Dr. Murray is in 1822, presies 200 jaar gelede, in die uitgestrekte grensgemeente van Graaff-Reinet aangestel, nadat Groot Brittanje die Kaap beset het en as deel van hul beleid van verengelsing,
Nederlandse gemeentes na Skotland verwys het om hul predikante te bekom. Met die instelling van hierdie "Anglicisation" beleid het Engels die amptelike taal geword wat in alle openbare skole onderrig en in burgerlike ampte gebruik moes word – Nederlands as taal is uit skole, die regering, en selfs uit die kerk, uitgesluit.
Die Britse goewerneur, Lord Charles Somerset, was onder die indruk dat die Skotse predikante in Engels sou preek en dat dit die Nederlandse volk sou dwing om van Nederlands na Engels te beweeg.
Wat die Britse regering nie voorsien het nie, was dat dit die mees ongelooflike geestelike herlewing sou laat ontstaan – Skotse Presbiteriane het die Nederlandse en Afrikaanse tale aangeleer en, in plaas daarvan om die Kaaps-Nederlands na Engels te omskep, is hulle deur God gebruik om geloof en kultuur op 'n ongekende manier te laat herleef.
Die aankoms van die gereformeerde pastore van Skotland, onder leiding van dr. Andrew Murray senior, was egter die begin van 'n nuwe era vir die kerk in Suid-Afrika. Dr. Murray het vir 36 jaar lank elke Vrydagaand vir Herlewing gebid.
Aartjie na sy vaartjie
Sy twee oudste seuns, John en Andrew, is intussen na Skotland gestuur. Nadat hulle met MA-grade gradueer het is hulle na Utrecht vir verdere teologiese studies en om die Nederlandse taal te bemeester.
Met Andrew Murray junior se terugkeer na Suid-Afrika was hy net 20 jaar oud maar kerkreg het vereis dat 'n leraar in die Kaap minstens 22 jaar oud moes wees. Die goewerneur, sir Harry Smith, het hierdie reël omseil deur hom te stuur om vir die sowat 12 000 Voortrekkers wat hulself tussen die Oranje- en Vaalrivier gevestig het te evangeliseer.
Die Voortrekkers was sonder 'n leraar sedert hulle die Kaap verlaat het. Andrew Murray se gemeente was hoofsaaklik geharde baanbreker boere en hy moes dus vinnig leer om sy preke eenvoudig, logies en prakties te hou.
Hierdie uitdagende grensbediening vir die Voortrekkers het egter sy karakter versterk en hom beslissend in aksie en kragtig in prediking gemaak.
Tydens 'n konferensie van kerke het 374 lidmate van 20 gemeentes bymekaargekom om die Skriftuurlike Basis vir Herlewing te formuleer. Altesaam agt predikante van die Andrew Murry-familie, insluitend Andrew Murray junior, het aan hierdie konferensie deelgeneem.
Op hierdie tydstip het Andrew Murray junior ook op Pinkster Sondag, 27 Mei 1960, sy bediening op Worcester begin met 'n preek oor "Die Bediening van die Gees".
Andrew Murray het 'n bekende skrywer, 'n internasionale evangelis en die moderator van die NG Kerk geword.
Hy het die Afrika-instituut gestig wat honderde sendelinge deur Afrika uitgestuur het.
Andrew Murray het ook baanbrekerswerk vir vroueonderrig in Suid-Afrika gedoen en die Hugenote Kollege vir die opleiding van Christelike onderwysers gestig.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'