HOFMEYR NUUS - Elf Hofmeyr-inwoners het verlede week hul ou motors uit hul stoorplekke gehaal, afgestof, gekyk of alles nog werk en dit vol brandstof gegooi gereed vir hul jaarlikse Ou Karre Toer.
Vanjaar is daar besluit dat die rit van die "Victoria-boetiekhotel na die Victoria-boetiekhotel” sal heet. Die roete deur die R390 en R337 is deur Johan Vermaak beplan.
Teen normale spoed duur dit ongeveer vyf en 'n half uur, maar vir die 1974 Peugeot, die 1981 Isuzu, die 2004 Ford, 'n Toyota "met ondervinding" en 'n Peugeot-bakkie met deursettingsvermoë, André Opperman se geel Isuzu, Simon Jansen se 1978 F250 dubbelkajuit en die heelwat jonger Mahindra THAR van Oreste Boffa, het dit effens langer gevat. Niemand was immers haastig nie.
Die span het teen 09:30 by die Victoria-boetiekhotel in Hofmeyr weggespring nadat Groenkrag-boerdery 'n stewige ontbyt daar geborg het. Die volgende stop was buite Cradock op die Mortimerpad by die Buffelshoek-wildsplaas waar die manne net weer 'n slag bymekaargekom het.
Die mans het die Michael Vermaak-boerdery naby Klipfontein besoek en daar vir 'n paar uur tussen indrukwekkende implemente en masjinerie gekuier. Die pad het 'n paar van hulle met ‘n draai tot daar gebring, want die oppervlak was nie geskik vir gebruik deur al die voertuie nie.
Lees meer in Donderdag se Graaff-Reinet Advertiser, asook aanlyn.
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'