MOLTENO NUUS - Die plattelandse dorpie Molteno, algemeen bekend as die dorp naby Buffelshoek en waar die koudste temperature jaarliks aangeteken word, het in die laaste paar maande groot veranderinge ondergaan.
Deon Cloete, 'n inwoner van Molteno, sê die gemeenskap is so dankbaar teenoor Sanral en Tau Péle vir uitstekende opgraderingswerk aan die hoofroete deur die dorp.
"Hierdie grootse poging van die ingenieurs het harde werk en presiese beplanning geverg, maar die eindproduk is werklikwaar indrukwekkend," het Magdalene Cloete-Jones bygevoeg.
Terwyl alle verkeer vir maande reeds herlei word, sodat die toegangsroete vanaf Queenstown afgehandel kan word, het die inwoners van Molteno geduldig gewag dat die projek voltooi word.
Dit is egter ook gedurende hierdie tyd wat inwoners, sonder om ag te slaan op die verbeterings wat aangebring word, besluit het om swart vullissakke eenvoudig in die parkie op die plein van Molteno te stort. Belastingbetalers se versoeke is eenvoudig geïgnoreer.
Die hoofroete deur Molteno is mooi opgegradeer.
'n Inwoner, Christine Vermaak, het haar misnoeë op sosiale media te kenne gegee:" 'n Absoluut skrikwekkende situasie heers in die park in die middel van Molteno waar toeriste op ‘n daaglikse basis verbyry. Watter dorp ervaar nog dat swart sakke met rommel eenvoudig in hul plaaslike park gestort word. Wat het van ons trots geword?"
Twee inwoners het besluit om werk te maak van die situasie. Deon Cloete en Ernest Geyer het ‘n vragmotor en sleepwa beskikbaar gestel en alle rommel en vuilgoedsakke is met behulp van ‘n aantal werkers verwyder.
Vanaf die transformator by die skool tot by die park is alles op slegs een dag opgeruim. Die terrein rondom Razzmatazz is ook netjies gemaak.
Die gemeenskap kon betrokke raak deur van die werkers te betaal vir die dag se werk en Rosa Cloete, gastehuiseienaar en eggenote van Deon, het die administrasie hanteer.
'Ons bring jou die nuutste Molteno, Karoo nuus'