HOFMEYR NUUS - Plaaslike gemeenskapsinstansies op Hofmeyr is betrokke by 'n soektog na die agt-jarige Zinathi Zahara Ntozakhe wat op 23 Desember verdwyn het.
Die Hofmeyr-ontwikkelingsinisiatief (HDI) se program, #Sebenza-Mhlali, Hofmeyr Hugs of Hope, die breë Hofmeyr-gemeenskap, plaaslike polisie en ander plaaslike strukture soek overpoos na Zinathi.
Die vermiste 8-jarige het tydens haar verdwyning ‘n blou sweetpak aangehad.
Haar ma, Aqhama Zukiswa Ntozakhe, sê sy het op die dag van haar verdwying na 'n nabygeleë spazawinkel gegaan om ‘n suigstokkie te koop, vermoedelik saam met haar verstandelik gestremde oom.
Hulle het egter nie teruggekeer nie en die soektog is van stapel gestuur, maar die familie het bly hoop dat die kind veilig saam met haar oom is. Maar, met sy terugkoms op 4 Januarie, bykans twee weke later, het hy gesê sy was nie saam met hom nie.
Die soektog is toe verskerp en verlate plaashuise is deursoek.
Die polisie is ook gevra vir 'n lasbrief sodat enige huis in Hofmeyr deursoek kon word, maar steeds is geen spoor van die dogtertjie gevind nie. Intussen is 'n medium van Kemptonpark in Gauteng se hulp ook ingeroep.
Enige persoon met inligting kan hul naaste polisiekantoor kontak of ondersoekbeampte Banisi van die Hofmeyr-polisie skakel by 082 443 3103.
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'