ABERDEEN NUUS - Vrydag 28 Oktober was 'n dag wat vele jongelinge met hulle sal saamdra die toekoms in; die laaste skooldag voor hulle finale eksamen op Maandag 31 Oktober begin het.
Twee leerders, Angel Joy en Gladys Flippies, sê die lekkerste deel van hulle matriekjaar was die geleentheid om vanjaar die Herfskool wat by die Spandau Sekondêre Skool in Graaff-Reinet aangebied is, te kon bywoon.
Die blootstelling en die geleentheid om saam met vriende horisonne te verbreed, sal hulle bybly.
Van die matrieks in Aberdeen se toekoms-planne is nog onseker, want geleenthede op die platteland is dikwels yl, maar Unica Jacobs het haar roeping gevind in haar liefde vir honde.
Haar toekomsdrome sluit in om by 'n gewilde hondeprodukte-vervaardiger in Graaff-Reinet te kan werk, of om aanvaar te word by die SAPD-akademie, ook in Graaff-Reinet.
Nog 'n leerder, Destemonia Martins, se boodskap aan haar medematrikulante is: "Die eksamen gaan nie maklik wees nie, maar ons sal dit maak as ons probeer en net ons bes lewer."
Graaff-Reinet Advertiser wens alle matrikulante van 2022 sterkte toe met die eindeksamen.
Matrikulante met hul aandenkingshemde ontspan ná hul laaste skooldag.
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'