Video
GRAAFF-REINET NUUS EN VIDEO - Hiep-hiep hoera, skool is klaar! Matrieks regoor die Karoo het Dinsdag die laaste vraestel van hul skoolloopbane geskryf. Om hierdie rede is daar ordentlik feesgevier, en by Hoër Volkskool in Graaff-Reinet was dit nie 'n uitsondering nie.
Matrieks se ouers het buite die skoolsaal, waar die leerders Engels vraestel drie geskryf het, hul kinders ingewag met vonkelwyn. Dié is oor die leerders gespuit toe hulle die saal verlaat.
"Hierdie eksamen was eintlik baie suksesvol, en ek is bly ons is klaar," het leerder Linda Lötter aand die Advertiser gesê.
Hoofdogter Marichen Piek het gesê die eksamen was lank, en sy sien uit om in die skoolswembad te gaan spring noudat dit verby is.
"Vir volgende jaar se matrieks wil ek graag sê om hard te leer tydens die September eksamen, dan is die eindeksamen nie so moeilik nie."
Voordat die leerders ordentlik makietie gaan hou het, het van hulle ook vir die laaste keer hul skoolskoene uitgeskop. Dié skoene sal volgende jaar aan 'n minderbevoorregte skool geskenk word.
Kyk 'n video hieronder:
Die leerders skop vir oulaas hulle skoolskoene uit. Dit sal aan 'n skool geskenk word.
Ouers het matriekleerders met vonkelwyn verwelkom.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'