KAROO NUUS - Vanjaar was 'n uitdagende een vir meeste, veral vir die matriekklas van 2020. Tydens die Covid-19-krises het plaaslike leerders steeds moed gehou, al was dit soms tydens afstandsonderrig, en ten spyte van die feit dat interskole nie kon plaasvind nie.
Baie van hierdie leerders het op Vrydag 11 Desember hul laaste vraestel, Afrikaans 3 of Afrikaans eerste addisionele taal 3, saam as 'n graad geskryf.
"Die vraestel was uitstekend, ons kon nie vir beter vra nie," het Keenan Plaatjies van Asherville Sekondêr gesê. Volgens hom was daar baie onderwerpe om van te kies. Sy skoolmaat, Adian Makoba, se raad aan die matriekklas van 2021 is om elke dag hard te werk. "Moenie moed opgee nie en onthou om te bid," is Shane Dollies se raad, en Archerlique Jacobus moedig leerders aan om hoog te mik.
By Hoër Volkskool het die leerders se ouers erewag gestaan om hulde te bring aan die leerders. Daarna het die groep matrieks 'n spesiale ete by The Village gehad, wat aangebied is deur die Gaad 11's en hul ouers. "Ons beste wense vergesel die klas van 2020!," het Suliza van Wyk namens die skool gesê.
By Union High het leerders die spesiale dag gevier deur elkeen die eeufeesklok te lui. "Julle reis by Union kom dalk nou tot 'n einde, maar julle sa altyd deel wees van die Union-familie," het die skool op hul Facebook-blad gesê.
Van die Hoër Volkskool leerders saam met hul ouers. Foto verskaf
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'