ABERDEEN NUUS - 'n Bekende man wat in die Aberdeen-distrik boer, het Maandag 13 Februarie vlugtig in die Graaff-Reinet-landdroshof verskyn op aanklag van kinderverkragting, nadat hy Vrydagaand, 10 Februarie, om 18:10 in hegtenis geneem is.
Adjudant-offisier Majola Nkohli, polisiewoordvoerder vir die Sarah Baartman-distrik, het op navraag bevestig dat die man gearresteer en aangekla is vir die beweerde verkragting van sy sewejarige dogter - op verskeie geleenthede.
Die beweerde misdrywe het glo plaasgevind gedurende Desember 2022. Nkohli sê die man bly in aanhouding tot sy volgende verskyning op 16 Februarie waartydens hy geleentheid sal kry om aansoek te doen om borgtog.
Nkohli het bevestig dat die meisie se ma die klag gelê het. Hy het gesê die dogtertjie is medies ondersoek, aangesien dit standaard prosedure is in enige seksuele oortredingsaak.
Die beskuldigde en die kind se ma is geskei. Nkohli het by navraag gesê dat hy nie in 'n posisie is om kommentaar te lewer oor die moontlikheid van ander klagtes van beweerde seksuele misdrywe teen dieselfde man nie. Indien wel, dan sou daardie klagtes steeds ondersoek word.
Hy het wel bevestig dat hy kennis dra van 'n ander onverwante seksuele misdryf deur die man waarop hy reeds elders skuldig bevind is, maar nog nie gevonnis is nie.
Die man se identiteit word weerhou om sy dogter teen identifisering te beskerm.
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'