Gallery
KAROO NUUS - Die Graaff-Reinet Animal Welfare Society (GRAWS) het onlangs donkies in skokkende toestand en omstandighede by 'n steenmakery in die omgewing aangetref.
GRAWS het gaan ondersoek instel na nóg 'n donkie op die N9, ongeveer 10 km buite Graaff-Reinet, doodgery is - hierdie keer 'n vulletjie kwalik ouer as twee weke.
Carlin Raath, bestuurder van GRAWS, sê dit is die vierde donkie wat die afgelope tyd in botsings op hierdie nasionale pad dood is.
Omdat dit ernstige kommer oor die veiligheid van motoriste sowel as die donkies wek, het Raath en Caryn Cherrington, kommitteelid van GRAWS, vergesel deur Adjudant Offisier Lawrence Jantjies, Konstabel Siyavuya Nqabisa, en Konstabel Christian De Jager van die plaaslike veediefstaleenheid, gaan kyk wat aangaan.
Niks kon hulle egter voorberei op dit wat hulle by die steenmakery teëgekom het nie.
Die toestand en omstandighede van die donkies wat daar werk was skokkend. Die diere was glad nie toegerus met die korrekte harnasse om te kan trek nie en is aan hul nekke vasgebind wat duidelik baie ongemak en pyn veroorsaak - hiervan getuig die vele letsels. Die donkies se gesigte is ook met dik materiaal of plastiek toegebind wat beslis versmorend moet wees.
Werk 6 ure aaneen
Dit is vasgestel dat die donkies vir 'n tydperk van twee weke elke dag vanaf 8:00 tot 14:00 werk. Onophoudelik en sonder enige toegang tot kos en water. Dit is ook vasgestel dat selfs die dragtige merries moet werk en die vulletjies wat gebore word moet dan die hele werksdag alleen deurbring omdat hul ma's amper dadelik na geboorte weer moet begin werk. Die merrie wat daardie oggend haar vulletjie in die botsing verloor het, was tydens die inspeksie ook aan die werk en haar gebulk was hartverskeurend.
Die hoofrede hoekom hierdie donkies op die N9 ronddwaal is te wyte aan die feit dat daar geen kampe is nie terwyl dit, volgens Raath, 'n standaardvereiste is as jy werkende vee aanhou. Omdat die donkies boonop nie behoorlik versorg word nie, loop hulle rond op soek na kos en water wat dan nie net gevaar vir hulself inhou nie, maar ook vir motoriste.
Volgens Raath het GRAWS al telkemale aangebied om gratis te help met die versorging van die donkies, maar is dit van die hand gewys.
Gesprek met Swartz-broers
Tydens die inspeksie kon nie vasgestel word watter donkies aan wie behoort nie - Charles Swartz of Japie Swartz. Raath het telefonies met Japie gesels en het hy toe ingestem dat GRAWS al die donkies behalwe die twee waarmee hy werk mag verwyder. Daar is gepoog om 'n vergadering met hom te belê om die voorwaardes waarop donkies voortaan aangehou mag word te bespreek, maar hy was nie beskikbaar nie.
Graaff-Reinet Advertiser het ook 'n telefoniese gesprek met Japie Swartz gehad en hy het bevestig dat hy toestemming gegee het vir die verwydering van die donkies.
GRAWS ingryping
Raath beklemtoon dat GRAWS graag die donkies wil help maar dat die eienaars van die donkies ook verantwoordelikheid moet neem.
Die eienaars sal toegelaat word om die donkies waarmee daar gewerk word te hou, maar GRAWS se voorwaarde is dat daar 'n ruskamp met 'n afdak vir skuiling vir hulle gemaak moet word. Die donkies mag dan net in hierdie ruskamp aangehou word. Die ruskamp moet toegerus wees met 'n waterkrib en voerbakke en die donkies moet dan elke uur 'n waterbreuk kry terwyl hulle werk en twee keer per dag lusern gevoer word om te voorkom dat hulle weer op die hoofpad ronddwaal. Die donkies moet ook die regte werkstoerusting kry om hulle werk meer draagbaar te maak. Benewens hierdie voorwaardes moet die donkies ook gemerk word sodat die betrokke eienaar verantwoordelik gehou kan word indien 'n donkie uitkom en gestamp word of 'n ongeluk veroorsaak.
Streng gemonitor
"Die nalatigheid is vir my 'n groot bekommernis. Die welstand van die donkies is 'n prioriteit en alhoewel 'n donkie hard kan werk moet hy ordentlik na omgesien word en genoeg water, kos en rus kry. Die feit dat daar tans geen behoorlike waterkribbe is nie en hulle ook nie daagliks gevoer word nie is wreed teenoor die donkies," sê Raath. "Die situasie sal streng gemonitor word en daar sal weekliks inspeksie gedoen word. Die eienaars van die donkies sal 'n regverdige kans gegee word om dinge reg te maak maar indien die eienaars nie hul kant bring nie sal sake teen hulle oopgemaak word en sal selfs die werkende donkies verwyder word," beklemtoon Raath. Ons wil almal regverdig behandel maar sal altyd in die beste belang van die diere optree."
Raath was van plan om die donkies waarmee nie gewerk word nie, te verwyder en na 'n plek van veiligheid te neem waar hulle in vrede kan leef sonder om te werk vir hul daaglikse brood.
Ellende gaan voort
Maar, dit het die week aan die lig gekom dat daar nog geen einde aan die ellende van die donkies is nie. Ten spyte van die ooreenkoms tussen Raath en Japie Swartz dat die donkies na 'n plek van veiligheid sou gaan, het hy nie by die ooreenkoms gehou nie. Toe Raath op Maandag 9 Oktober met hom in verbinding tree om reëlings vir die verwydering te finaliseer, moes sy met skok verneem dat die meeste van die donkies intussen verkoop is. Weereens aan iemand wat hulle oorgekoop het vir werk.
Kennisgewing oorhandig
Die Graaff-Reinet Advertiser het Raath op Woensdag 11 Oktober na die steenmakery vergesel en albei broers daar aangetref. Die Advertiser het ook gesien dat beide mens en dier hier baie hard werk.
Omdat dit op hierdie stadium steeds onseker is aan watter broer watter donkies werklik behoort, het Raath waarskuwingsbriewe aan beide oorhandig en erkenning van ontvangs laat teken.
Die briewe omskryf die voorwaardes waaraan voldoen moet word om voortaan donkies te mag aanhou.
GRAWS sal op 25 Oktober weer besoek by die steenmakery aflê om te verseker dat daar wel aan hierdie voorwaardes voldoen is.
Dié dooie vulletjie wat op die N9 doodgestamp is.
Foto 6Die donkie is ook vroeg in September doodgestamp op die N9.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’