GRAAFF-REINET NUUS - Twee potensieel lewensgevaarlike situasies met betrekking tot kragkabels is as 'n groot veiligheidskwessie uitgewys.
Aan die oorkant van die pad voor Spandau Sekondêr is daar lewendige kragkabels wat los hang en nie behoorlik geïsoleer is nie.
Volgens Amos Mcinga, woordvoerder van die Service Delivery Movement (SDM), het die Dr. Beyers Naudé-munisipaliteit (DBNLM) hierdie kabels net so gelos nadat hulle aan die kraglyne gewerk het. Hierdie kabels hou 'n groot gevaar vir leerders en ander verbygangers in. "Die gebied is nie eens afgesper vir veiligheid nie," sê Mcinga.
Agter die Margery Parks-hospitaal in Santaville het 'n kragkabel losgekom en 'n groot gedeelte daarvan lê, na bewering, nou al vir ongeveer vyf maande lank op die grond. Die moontlike verwering of beskadiging van hierdie kabel se isolasie hou beslis ernstige gevaar in.
Die moontlikheid dat die kabel deur koperdiewe gevandaliseer kan word, met rampspoedige gevolge, moet ook nie uitgesluit word nie.
Voorval by Riemvasmaak
Daar was reeds vantevore 'n voorval wat verband gehou het met die versuim om aan die nodige veiligheidsregulasies te voldoen toe twee seuns in die Riemvasmaak informele nedersetting op 25 Julie 2020 byna hul lewens verloor het.
Brendon Karelse het by die dood omgedraai nadat hy probeer het om 'n vlieër, wat aan 'n laag hangende kraglyn vasgehaak het, met draad los te maak. Hy het oral brandwonde gehad, selfs sy maag was verbrand, en daar was 'n gat in sy skouer waar die stroom deurgegaan en die bene van sy hand uitgesteek het. Brendon het 'n gedeelte van sy arm as gevolg van hierdie voorval verloor.
Sy vriend, Richard Visagie, het ook ernstige brandwonde aan sy kop, rug, bene, voete en hande opgedoen toe hy Brandon te hulp gesnel het. Brandon en Richard was onderskeidelik 15 en 12 jaar oud ten tyde van die ongeluk.
Lewendige kragkabels sonder isolasie lê oop en bloot oorkant Spandau Sekondêr.
Berge vullis
Dit is veral kommerwekkend dat hierdie tipe veiligheidsgevare reg oorkant 'n openbare skool en agter 'n publieke hospitaal voorkom.
Dit is egter nie die enigste bekommernis wat betref die Margery Parks-hospitaal nie. Langs die hospitaal, naby die omgewing waar die elektriese kabel gesien kan word, is daar ook rioolstortings en hope vullis gemeng met sand, wat gereeld daar afgegooi word. Hierdie berge vullis is 'n seeroog en dis moeilik om die rasionaal agter dié stortings te verstaan.
Lewendige kragkabels sonder isolasie lê oop en bloot oorkant Spandau Sekondêr.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'