GRAAFF-REINET - Lizma Schoeman, 'n welbekende skilder van Somerset-Oos, het onlangs haar tentoonstelling, Karoo Kaleidoscope, by Our Yard Artitude in Graaff-Reinet geopen.
"Ek is ‘n boorling van Somerset-Oos waar ek aan Gill Kollege gematrikuleer het," vertel Lizma. "Daarna het ek myself as 'n BCom Bedryfsielkundige, met 'n honneursgraad in ondernemingsbestuur, aan die Universiteit van Stellenbosch bekwaam."
Lizma het die skilderkwasse aan en af vir twaalf jaar opgeneem, maar vir die laaste vyf jaar skilder sy feitlik voltyds.
"Olie is my gunstelingmedium, ek dink ek is verslaaf aan die reuk van die olieverf en die roulynolie. Vir my is dit die reuk van vreugde."
Karoo Kaleidoskoop bestaan uit foto's van die Karoo wat sy in skilderye omskep het. "Ek het ver en wyd gesoek vir geskikte fotomateriaal om altesaam 26 werke, wat tipies van ons Karoo-omgewing is, op doek vas te lê."
Toegang tot die uitstalling is gratis. "My gunstelingwerke is diegene met mense op waarop ek die karakter kon weergee."
Kopers kan hul nuwe aanwinste onmiddellik saamneem, maar die volle reeks sal wel op haar webwerf te sien wees.
"Ek het ook van talle afdrukke laat maak, wat meer bekostigbaar is vir diegene wat graag 'n herinnering aan ons kosbare Karoo wil koop."
Lizma met vriendinne.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'