CRADOCK NUUS - "Ek het verskriklik groot geskrik!", vertel Nathasha de Beer van Setariatraat op Cradock, nadat sy onlangs 'n uitgegroeide likkewaan onder hul afdak, op 'n balk gewaar het.
"Ons het nie voëls en hoenders in hokke nie, en ek dink hy het uit die veld na ons huis gestap," vertel sy. Hul tuiste is slegs een blok van die veld af.
"Daar is groot bome op ons erf, met baie voëltjies hierdie tyd van die jaar, en ons het ook baie verkleurmannetjies in ons tuin. Ek was egter op geen stadium hierdie volwasse likkewaan te wagte nie."
De Beer was besig om papier en plastiese sakkies op te tel wat sy in hul vullisblik onder die afdak wou gooi. "Toe ek opkyk, kyk ek vas in die geel oë van die likkewaan."
Sy het onmiddellik op 'n WhatsApp-groep om hulp gevra, want sy het besef dat hierdie probleem groter is as wat hul gesin sou kon hanteer.
Die name van twee natuurliefhebbers, Dwayne en Wayne de Beer is onmiddellik na haar deurgestuur. Wayne de Beer het ingewillig om dadelik te kom help en die likkewaan is verwyder en vrygelaat.
'Ons bring jou die nuutste Cradock, Karoo nuus'