TUINROETE | KAROO NUUS - Leonardo Muller (21) van Groot-Brakrivier het so pas sy studies in die regte aan die Universiteit van Wes-Kaapland voltooi en is aangewys as een van die top 100 mees indiensneembare gegradueerdes uit 5 000 aansoeke, regoor Suid-Afrika. Muller wat sy laer- en hoërskoolloopbane by onderskeidelik Groot Brak Primêr en Sekondêr voltooi het, vertel dat hy eers as een van die top 500 studente in die GradStar SA gekies is.
Hulle moes psigometriese toetse ondergaan en persoonlike planne en 'n video voorlê van hoekom hy as aansoeker verdien om in die top 100 te wees.
Die aansoekers moes toe twee maande wag en hy is uiteindelik op 30 September aangewys as een van twee van die Universiteit van Wes-Kaapland wat die top 100-lys gemaak het.
Die wat die lys gemaak het, is vir vier dae vir 'n wegbreek na Johannesburg geneem waar hulle van die top werkgewers in die land ontmoet het en aan werkswinkels saam met verteenwoordigers van die maatskappye deelgeneem het waar hulle met verskillende praktiese probleem-scenario's gekonfronteer is wat hulle moes help oplos.
Leonardo vertel: "Ek voel baie geseënd om deel te wees van hierdie program. Dit het my die geleentheid gegee om myself daar buite te plaas en nie net die UWK te verteenwoordig nie, maar die hele Groot Brak-gemeenskap. Ek is 'n opportunistiese persoon wat hou van geleenthede en van dinge doen wat onmoontlik lyk."
Tracey-Lee (suster) en Beverley Muller (ma), Lee-Wilda Botha (suster), Leonardo Muller, Mack-Kay Botha en voor Luchen Botha (susterkinders).
Leonardo werk sedert hy in 2017 gematrikuleer het, gedurende Desember-vakansietye by die De Dekke Spar. "Hulle is die eerste plek wat vir my 'n werk gegee het en ek het die fondse gebruik om vir vervoer en kruideniersware te betaal, terwyl ek studeer het. Ons uitslae word op 22 Desember bekend gemaak. Ek weet self nie wat volgende jaar gaan gebeur nie. Ek het nog nie 'n positiewe antwoord gekry van werkaansoeke wat ek ingestuur het nie. Ek glo wel aan 'Do your best, God will do the rest'."
Leonardo wil dit duidelik maak dat hy nie uit 'n bevoorregte huis kom nie, maar baie hard gewerk het in matriek en 'n 100% beurs van die UWK ontvang het om verder te studeer. Indien hy nie 'n geskikte werksaanbod kry nie, het hy as plan B aansoek gedoen vir 'n meestersgraad in arbeidsreg en dispuutbeslegting by die UWK.
Leonardo Muller oppad klas toe by die Universiteit van Wes-Kaapland.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'