My loopbaan in joernalistiek het meer as 'n dekade gelede nét hier in Graaff-Reinet by die Advertiser begin.
Alhoewel gemeenskapskoerante en nasionale dagblaaie drasties verskil, speel albei steeds 'n groot rol in die joernalistiek - die einddoel van albei is om lesers met interessante en relevante inligting te bedien. Gemeenskapskoerante soos die Advertiser, is volgens die internasionale aandelemagnaat en ekonoom, Warren Buffet, onlosmaaklik deel van die gemeenskap en veral waardevol in gemeenskappe waar 'n sterk gemeenskapsbewussyn geld. Trouens, Buffet beskryf die gemeenskapskoerant so: "...there is no more important institution than the local paper".
Oor die laaste paar jaar het ek hier in Graaff-Reinet in alle erns die rol van 'n gemeenskapskoerant eerstehands besef: om die verlies van die lewe betekenis te gee, om te deel in ander se prestasies in die hoop om die breër gemeenskap te inspireer, om in te lig waar vraagtekens dikwels frustrasies bring en om in mekaar se lief en leed te deel.
Gemeenskapskoerante oriënteer lesers ten opsigte van hul onmiddellike omgewing en skep 'n gevoel van geborgenheid onder inwoners van 'n dorp.
Hoewel dit vir my na meer as 10 jaar steeds elke Donderdagoggend vreesaanjaend is wanneer die Advertiser in stapels by die kantoor afgelaai word, klop my hart warm wanneer ek die eerste mense vroegoggend met die Advertiser onder die arm sien loop.
Oor die jare het ek gesien hoe 'n gemeenskap die stukke optel na 'n tragedie en deel in die vreugde wanneer 'n sportspan 'n wedstryd wen, hoe passievol mense raak oor waterbesparing, bekamping van misdaad en hoe die dood van 'n bekende inwoner die dorp tot stilstand kan ruk.
Dié plaaslike koerant dien Graaff-Reinet en omtrek reeds sedert 4 April 1860 toe die eerste uitgawe destyds op 'n Woensdagoggend die lig gesien het.
Ek hoop van harte dat die rol wat die Advertiser reeds vir 158 jaar in die gemeenskap speel, nog verder sal verdiep en versterk oor die jare wat kom.
DEUR GRAAFF-REINET ADVERTISER-REDAKTEUR, MARIëTTE BURGER
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'