GRAAFF-REINET NUUS — Tydens die afgelope Junievakansie het ‘n groep Hoër Volkskool Landsdienslede die provinsiale kamp, saam met al die ander takke in die Oos-Kaap, by Mentorskraal te Jeffreysbaai bygewoon.
Tydens elke kamp word die vier Landsdiensliefdes sigbaar uitgeleef terwyl daar aan verskillende opwindende aktiwiteite deelgeneem word.
‘n Liefde vir die natuur is beleef tydens ‘n staptog tot op die kruin van Lady Slipper.
Die verwoesting wat die brande aan die omgewing aangerig het, is eerstehands gesien, maar daarmee saam ook die wonder van die natuur wat positief reageer op ‘n paar druppels water.
Tydens hierdie staptog moes baie kampers hul vrees vir hoogtes oorkom toe daar oor die baie hoë treinbrug by Van Stadens gestap moes word.
Uitstappies is onderneem na die Volkswagen Museum, die Nelson Mandela Stadion,‘n brandeplank- en skulpie museum, die NSRI en Kragga Kamma Wildpark.
Op die strand is daar meer geleer oor seediere en ‘n gasspreker het lede ingelig oor die gevare wat windplase vir die voëllewe inhou.
Handwerk aktiwiteite is altyd deel van ‘n Landsdienskamp.
Tydens kampe word daar altyd gefokus op aktiwiteite wat vaardighede vereis wat moontlik tot ‘n winsgewende ondernemig of stokperdjie kan ontwikkel.
Tydens ‘n lofprysings geleentheid saam met lede van die plaaslike VCSV, het lede ook die geleentheid gekry om hul liefde vir hul Skepper uit te leef.
Landsdienskampe bied aan lede die geleentheid om basiese lewensvaardighede te ontwikkel.
Lede van verskeie klubs word in groepe verdeel en sodoende word groeplede verplig om nuwe mense te ontmoet en aan te pas by vreemde omstandighede en ‘n bydrae te lewer tot die sukses van die groep wanneer daar aan aktiwiteite, wat dikwels in ‘n kompetisie atmosfeer plaasvind, deelgeneem word.
Volgens tradisie word die name van die lede wat verkies is om die provinsie by die nasionale kamp te verteenwoordig tydens ‘n gesamentlike vergadering aangekondig.
Hoër Volkskool is bevoorreg om goed verteenwoordig te word deur die volgende lede wat gedurende Desember in Kwa-Zulu Natal aan die nasionale kamp sal deelneem:
Juniors: Megan Nel (leier), Fransene Joubert, Labre Oosthuizen, Amore Cronje, Mia du Plessis, Emile Blignaut en Theodor Dorfling. Seniors: Ischke Krouwkam en Judy van Heerden.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'