GRAAFF- REINET NUUS - Hoër Volkskool se Landsdienslede het saam met ander vrywillige leerders die strate van Graaff-Reinet onlangs ingevaar om geld vir Huis van de Graaff, ‘n plaaslike tehuis vir bejaardes, in te samel.
Gewapen met plakkate en blikke het hierdie opgewonde vrywilligers die straathoeke rondom die NG-kerk beman en verbygangers bewus gemaak, gesmeek en oortuig om ‘n finansiële bydrae te maak.
Kers is opgesteek by die bestuurder van die ouetehuis en daar is ooreengekom dat die fondse aangewend sal word om koekies vir die inwoners te koop.
Op pad na die Landsdiens se onlangse provinsiale kamp, het die groep die kosbare vrag gaan aflewer.
Om jou medemens te dien is een van die Landsdiens-beweging se liefdes en dit was vir almal betrokke ‘n voorreg om hierdie bydrae te kon lewer.
Die Landsdienslede oorhandig die fondse geïn aan Huis van de Graaff.
“Namens die bestuur en inwoners van Huis van de Graaff spreek ons graag ons opregte dank uit teenoor die Landsdienslede van Hoër Volkskool vir die eetgoed wat hulle aan die inwoners van dié tehuis geskenk het,” sê Rita Theron.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'