ABERDEEN NUUS - Die Aberdeen Full Service School (FSS) het hierdie jaar ‘n geweldige groot inname van gr. R-leerders gehad, soveel so dat die skool vir die eerste keer ‘n tweede klassie op die been moes bring.
Altesaam 66 gr. R’e het verlede Woensdag by hierdie skool opgedaag om hul skoolloopbane te begin, 18 méér as die vorige akademiese jaar.
Volgens Talana Verwey, departementshoof vir Aberdeen FSS se intermediêre- en seniorfase, het die getalle in alle grade en ook die koshuisgetalle aansienlik toegeneem.
Verwey glo dat opvoeders se positiewe insgesteldheid en entoesiasme beslis raakgesien word deur die gemeenskap en die skool baie aanloklik maak.
"Ons opvoeders stap regtig die ekstra myl vir die leerders met ekstraklasse, hulp aan leerders wat sukkel met lees, en remediërende werk. Ons probeer ook om sportgeleenthede te bied vir die leerders se holistiese ontwikkeling," sê Verwey.
Sy vertel dat hulle aan die einde van verlede jaar terapeute by die skool gehad het om leerders by te staan met konsessies, en dat hulle hierdie jaar poog om op ‘n meer gereelde basis sielkundiges en terapeute te kry.
"Die skool het ook ‘n baie aktiewe ondersteuningspan, wat programme soos die Spec-Savers-projek aanbied," voeg sy by.
"Ons het verlede jaar 100+ leerders se oë laat toets by Spec-Savers en ons is dankbaar dat hulle ons aan die hand gevat het hiermee." Daarbenewens het die skool verlede jaar baie bewusmakingsveldtogte gehou.
"Al hierdie inligting deel ons deur middel van nuusbriewe met ons ouers. Ek dink mense sien ook alles wat ons doen raak en daarom is daar ‘n groei in al ons grade," sê Verwey. "Elke liewe klas vanaf gr. R tot en met gr. 7 het gegroei, en daarvoor kan ons net die Hemelse Vader dank."
Sy bedank ook die ouers wat die skool met hul kinders se opvoedkundige ontwikkeling vertrou.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’