Gallery
GRAAFF-REINET NUUS - Die skokkende toestand van sommige begraafplase in Graaff-Reinet is weereens onder die vergrootglas na 'n leser van Despatch in 'n brief aan Graaff-Reinet Advertiser en die munisipaliteit haar afgryse oor die verwaarloosde grafte en terrein uitgespreek het.
'n Inwoner van Graaff-Reinet sê die begraafplaas agter Sunnyside gee haar die horries. "Die mense lê onder lang en uitgegroeide bossies en plante. Dit lyk soos die apocolypse of horror films wat daar afspeel."
FOTOGALERY: Verwaarloosde grafte in Graaff-Reinet
Sy het 'n beroep op die gemeenskap gedoen om hand by te sit met die skoonmaak.
Wie moet skoonmaak?
By navraag het die direkteur van gemeenskapsdienste, Gewnynne Hermanus, verduidelik dat die meeste begraafplase in Graaff-Reinet aan kerke behoort.
Daar is wel enkele begraafplase wat aan die munisipaliteit behoort, maar omdat die inwoners geen tariewe vir die instandhouding daarvan betaal nie, sukkel die munisipaliteit om dit in stand te hou. Hierdie tariewe word glo tans aan begrafnisondernemers betaal.
Die begraafplaas waarna die inwoner van Despatch verwys is die AGS-begraafplaas wat net langs Sunnyside is.
Ds. Phillip Jonker, leraar van die AGS Kairos Bedieninge, sê dat die AGS-begraafplaas nie aan die kerk behoort nie, maar aan die munisipaliteit.
Die NG Kerk se groot begraafplaas en die kleiner begraafplasies in die dorp behoort wel aan kerke, maar volgens Jonker is die instandhouding van alle begraafplase die munisipaliteit se verantwoordelikheid.
"Daar was in die verlede 'n ongeskrewe reël dat kerke self die begraafplase moes skoonhou omdat hulle nie nodig gehad het om vir die plotte te betaal nie," sê Jonker.
"Maar al die mense wat in die AGS-begraafplaas begrawe is het hul plotte by die munisipaliteit gekoop. Al is dit nie ons verantwoordelikheid nie het ons probeer om die begraafplaas skoon te hou, maar vandalisme, rommelstrooiing en gekuier tussen die grafte het dit vir ons onmoontlik gemaak."
'n Dogter was geskok na sy onlangs haar ouers se grafte in Graaff-Reinet besoek het.
Munisipaliteit neem aksie
Hy sê dat hy 'n paar weke gelede by die munisipaliteit was om oor die kwessie te praat en 'n amptenaar het bevestig dat instandhouding van begraafplase 'n munisipale verantwoordelikheid is. Jonker is toe gevra om 'n klag by die munisipale bestuurder en burgemeester in te dien.
"Ek het die brief ingegee en daarna het die munisipaliteit opdrag gegee dat die begraafplase skoongemaak word. Al die begraafplase, insluitend die AGS en NG Kerk begraafplase, en ook die kleiner begraafplasies in die dorp is gelys en die munisipaliteit het verlede week begin skoonmaak."
Hy sê die munisipaliteit het ook genoem dat hulle heinings om die begraafplase wil sit, maar dat dit eers in die volgende begrotingsjaar sal kan plaasvind. Jordaan doen 'n beroep op die gemeenskap om direk met hom in verbinding te tree indien hulle vrae oor die toestand van die AGS-begraafplaas het.
"Mense is baie welkom om my te bel sodat ek die situasie mooi aan hulle kan verduidelik."
Hermanus bevestig ook planne vir die opgradering van sekere begraafplase en 'n befondsingsaansoek vir 'n nuwe begraafplaas in die Adendorp-omgewing is reeds ingedien. Die munisipaliteit het verlede week begin skoonmaak en die grafstene agter Sunnyside is nou weer sigbaar.
Munisipale werkers onder leiding van die direkteur van gemeenskapsdienste, Gewnynne Hermanus en raadslid Joy Williams het verlede week ingespring om die Sunnyside-begraafplaas skoon te maak
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’