HOFMEYR NUUS - Die vaardigheids-ontwikkelingsinstansie, Hugs of Hope in Hofmeyr, het die jaar vroeg afgeskop met gevorderde kwiltklasse vir vaardige naaldwerkers.
Altesame ses kursusgangers reis vanjaar een keer per maand na Burgersdorp waar hul opleiding by bekende en hoogs begaafde kwiltkunstenaar, Elsie Oosthuizen, ontvang.
Die kwilters neem hul eie toebehore en etes saam, en in elke sekonde word ingespan om die onderskeie tegnieke te bemeester.
Die eerste klas het kleurkombinasies, kniptegnieke en stiktegnieke gehanteer. Die geleentheid wat kwilters gehad het om tussen Elsie se honderde lappies te "speel" was vir hulle 'n heerlike hoogtepunt. Elke naaldwerker kon haar eerste laslapartikel van 'n windmeul huis toe neem.
Hulle het ook besluit om 'n reeks ontwerperskussings te maak. Die slope gaan bemark word en die vroue gaan dan hul eie kwiltmateriale aankoop, elkeen na sy eie smaak.
Die kennis en vaardighede wat hulle tydens opleiding leer, sal ook oorgedra word aan die naaldwerkers wat nie opleiding kan bywoon nie.
Elsie beperk getalle tydens opleiding, want sy gee graag persoonlike aandag aan elke kursusganger.
Die eerste klas het kleurkombinasies, kniptegnieke en stiktegnieke gehanteer. Foto's: Teresa Opperman
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'