CRADOCK NUUS - Pekanneut-oestyd het uiteindelik by Cradock Voorbereidingskool aangebreek.
Die skoolhoof, Elmar Heese, het 10 jaar gelede, in samewerking met Erick Cloete, bekwame pekanneutboer van die distrik en skenker van die bome, ongeveer 150 bome by die skool aangeplant.
Dezney Britz, fasiliteerder by die skool sê dat dit 'n groot voorreg is om hulle eie pekanneute te kan oes, en daar is besluit om die kinders deel van die oestyd te maak.
"Nie net vir pret nie, maar ook om te leer hoe die proses werk, vandat die neute van die bome afval, totdat dit op die winkel se rak verkoop word. Ons leerders was só opgewonde en het van boom tot boom gehardloop om neute op te tel en te pluk. Daar is vir hulle gewys watter neute gepluk mag word en hoekom ons nie die neute te groen mag afpluk nie. So het die leerders van Cradock Voorbereidingskool spelenderwys geleer dat daar fisies gewerk moet word om 'n oes te verdien."
Met die Kwagga-oesresies word daar tussen klasgrade gekompeteer om te kyk watter graad die meeste neute kan oes.
"Dit is 'n groot opgewondenheid wat die leerders en personeel geniet," sê Britz
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’