KAROO NUUS - Die onlangse Stoep Tasting Wine Weekend het nie net in Graaff-Reinet nie, maar ook in Nieu-Bethesda plaasgevind en was die 24 wynkelders wat daar uitgestal het, nie die enigste trekpleister vir feesgangers nie.
'n Kwilt- en wynparing is in die kelder van Ludolf en Carla Smit se restaurant, Bruno's at the Bethesda, gehou - hierdie geleentheid was hoog op die doenlysie van feesgangers.
Antoinette Kriel het dié geleentheid, wat tydens die Stoep Tasting Wine Weekend in Nieu-Bethesda plaasgevind het, gereël.
Kriel het vir Riëtte Eggink, handelsmerk ambassadeur van Montpellier de Tulbagh-wynkelders genader om ses van hul wyne beskikbaar te stel wat saam met kunskwilte gebruik kon word in die kwilt- en wynparing-geleentheid.
Ses kwiltkunstenaars is deur Kriel uitgenooi. Elke kunstenaar het 'n nommer uit ses gekies wat een van die Montpellier-wyne verteenwoordig.
Die kunstenaars het toe die wyn as inspirasie gebruik om 'n kunskwilt te ontwerp wat die wyn komplimenteer en uitbeeld. Hulle het ook inligting oor die wynplaas en handelsmerk van die kelder asook 'n bottel van hul gekose wyn, ontvang.
Tydens die kwilt- en wynparing-geleentheid, het deelnemers 'n kans gekry om die ses Montpellier-wyne te proe en dan te besluit watter wyn by watter kwilt pas. "Nadat die ses wyne geproe is en almal hulle keuse van 'n kwilt by die wyn gemaak het, het die kunstenaars die geleentheid gekry om te vertel wat hulle geïnspireer het met die maak van hul kwilt," vertel Kriel.
Na die geleentheid is die kunskwilte op 'n uitstalling vir die res van die naweek geplaas vir feesgangers om te geniet.
Kriel voeg by dat daar vir seker weer volgende jaar 'n kwilt- en wynparing in Nieu-Bethesda gaan wees en sal ses nuwe kwiltkunstenaars genooi word om Montpellier se wyne uit te beeld.
Hierdie ses kunskwilte gaan voortaan in die Manor-huis van Montpellier de Tulbagh tot Mei volgende jaar uitgestal word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’