GRAAFF-REINET NUUS - Graaff-Reinet, sy mense en besienswaardighede lok nie net toeriste van oraloor na die pragtige dorp nie, maar ook navorsers wat van die dorp se kultuurskatte bestudeer.
Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Kultuurgeskiedenis hou eersdaags hul jaarlikse nasionale kongres hier op die dorp, en talle interessante lesings sal by dié geleentheid aangebied word.
Die kongres vind oor die loop van 'n dag en 'n half plaas, van Vrydag 1 tot Saterdag 2 September.
Die venue is die Ou Biblioteek van die Graaff-Reinet Museum.
Belangstellende inwoners van die dorp word ook hartlik uitgenooi om dit by te woon.
Van die onderwerpe wat deur sprekers toegelig sal word, is onder meer:
“Anton Rupert en kultuurgeskiedenis” (deur Ebbe Dommisse, skrywer van die werk Anton Rupert – 'n lewensverhaal); “Anna Neethling-Pohl, dogter van Graaff-Reinet (deur Cobus Ferreira); “Re-imaging Sobukwe: from political figure to heritage product” (deur Anziske Kayster); “Kultuurskatte van die Graaff-Reinet Museum” (deur Annemarie Carelsen); “Ontdek Graaff-Reinet – wees 'n toeris in jou eie dorp” (deur Chantelle Marais); sowel as enkele ander onderwerpe wat nie met Graaff-Reinet verband hou nie, soos “Die invloed van slawe op die ontwikkeling van Afrikaans” (Annemarie van Zyl) en “Rock art in the Vredefort Dome and surroundings” (Claudia Gouws).
Kongresverrigtinge sluit ook twee ekskursies na besienswaardighede op die dorp in, en die baie gesellige kongresdinee wat Vrydagaand aangebied word.
Indien u belangstel om hierdie uiters interessante en stimulerende kongres by te woon, skakel gerus met Anziske Kayster by die Graaff-Reinet Museum, 049 8923801 sodat u betyds kan inskryf.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'