KAROO NUUS - Die gemeente van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) te Kroonvale het onlangs dié kerk se 200ste bestaansjaar feesdiens gehou.
Die diens is op Sondag, 4 Augustus deur huidige leraar ds. Petrus Gysman gelei, en is waargeneem deur prof. Andrew Phillips, die dekaan van menslike wetenskappe aan die Universiteit van Suid-Afrika en leraar van die VGK Eersterust te Pretoria.
"[Phillips] se oupa was lidmaat van die gemeente, en van sy familie is steeds hier," het Trevor Moos van die Kroonvale-gemeente aan die Advertiser gesê.
Tydens die diens het die Sondagskool-leerders 'n kersseremonie gehad, en die senior kategese het Psalm 23 in drie tale voorgelees. Die juniorkoor en kerkkoor van Jansenville het die geleentheid verder vervrolik met sang.
Gysman en sy vrou Liezelle het ook tydens die diens 'n feesgedenksteen onthul. Die diens is afgesluit met nagmaal, wat waargeneem is deur ds. Ricardo Kayster. Kayster is een van vyf oud-gemeentelede wat 'n predikant vir die VGK geword het. Die ander is Chris Meyer, Calvym Smith (Meyer se kleinseun), Martin Bosch en Llewelyn Smith.
Ander gemeentes van Aberdeen, Graaff-Reinet, Jansenville, Middelburg, Somerset-Oos en Murraysburg was ook teenwoordig. "Ons bedank al hierdie kerke vir hul ondersteuning," het Moos bygevoeg.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'