GRAAFF-REINET NUUS — 'n Graad 10-leerder van Spandau Sekondêre Skool in Graaff-Reinet, Simamkele Matyityi, hou die skool se naam hoog in die wêreld van gewigoptel.
Die 16-jarige gewigopteller het twee medaljes tydens die onlangse skoolvakansie by, onderskeidelik, die OP-gewigoptel kompetisie in Port-Elizabeth en die Suid-Afrikaanse Nasionale Gewigoptelkampioenskappe verower.
Tydens die OP-byeenkoms het Simamkele 'n silwer medalje verower en tydens die nasionale byeenkoms het hy 'n brons-medalje in sy afdeling verower.
Wat die prestasie uiters besonders maak is dat dit nou eers Simamkele se eerste jaar is wat hy aan die sport deelneem.
Gewigoptel as sport geniet tans groot aansien by Spandau Sekondêr en het die skool in die afgelope paar jaar twee gewigoptellers gehad wat die provinsie op nasionale vlak verteenwoordig het.
Spandau Sekondêre Skool is baie trots op Simamkele se prestasie en wens hom alle voorspoed toe met sy toekoms in dié sport.
Simamkele sal weer in September aan sy volgende kompetisie meeding.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'