KAROO NUUS - Kroonvale Primêr se hoofmeisie, Precious Erns, het die afgelope paar maande uitstekend op sportvlak presteer.
Hierdie jong atleet het haar skool op distriksvlak in Gqeberha en Mthatha verteenwoordig waar sy by beide geleenthede goue medaljes in die 200 m en silwer medaljes vir verspring verower het.
Daarna is sy in die Oos-Kaapse span opgeneem en het sy verlede maand haar skool op provinsiale vlak in Pietermaritzburg verteenwoordig.
Benewens Precious se uitmuntende prestasies op die atletiekbaan, is sy ook 'n kranige netbalspeler wat haar skool sedert verlede jaar op distrikvlak verteenwoordig het.
Haar pa, Godfrey Erns, is baie trots op sy dogter, veral omdat sy dit regkry om haar passie vir sport en akademie te balanseer.
Hy verduidelik dat sy 'n baie druk program tydens die atletiekseisoen het en dat hy altyd bang is dat dit haar skoolwerk sal beïnvloed.
"Soms kom sy eers in die aand by die huis en dan moet sy al weer die volgende oggend vertrek om aan die volgende byeenkoms te gaan deelneem," vertel hy.
"Daarom het ek aan haar 'n ultimatum gestel: as haar skoolwerk agteruitgaan sal sy een van die twee sportsoorte moet prysgee."
Haar punte was egter tot dusver nog goed. "Sy het vir my 'n baie goeie rapport huis toe gebring," spog Godfrey. Hy sê Precious het beslis haar vernuf in kortafstande by haar ma, Liena Evelyn, geërf.
"Haar ma was op skool net so goed in die 100 m en 200 m. Ek was meer 'n ou vir langafstande. En rugby natuurlik," sê hy.
Precious se ma is in 2020 oorlede en sedertdien is Godfrey 'n enkelouer.
Dit is dan ook Precious se grootste motivering - om haar ma se skoene op sportvlak vol te staan en só haar nagedagtenis te eer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’