KLIPPLAAT NUUS - Al drie skole in Klipplaat – Klipplaat Senior Sekondêr, Hobson Khanyisa Primêr en Brandovale Primêr – is weer oop nadat hulle op 21 Februarie weens ‘n tekort aan onderwysers gesluit het.
Sedert die skole se sluiting het die gemeenskap alles in hul vermoë gedoen om ‘n vergadering met die Department van Onderwys se Uitvoerende Distriksbeampte (EDO) in die Sarah Baartman distrik te belê.
Na vele mislukte pogings het Jaftha uiteindelik die afgelope Maandag, 13 Maart met die primêre skole se bestuur ontmoet.
Volgens gemeenskapsleier Don Ntsikelelo het Jaftha bevestig dat die departement drie poste vir Klipplaat Senior Sekondêr en een pos vir Brandovale Primêr reserveer het. Sodra die nuwe finansiële jaar begin en die begroting allokeer word sal die departement toesien dat onderwysers aangestel word.
Volgens Ntsikelelo het Jaftha ook onderneem om toe te sien dat die Oos-Kaapse onderwysdepartement se direkteur, mnr. H N Godlo, en EDO Nomandla Singeni terugkom na Klipplaat om verskoning te vra vir wat hulle vir die gemeenskap gesê het nadat daar in die verlede glo harde woorde geval het.
Jaftha sal ook op die 13de April terugkom na die gemeenskap om terugvoer te gee oor vordering met hierdie ondernemings.
Na afloop van die vergadering het beide primêre skole dadelik weer oopgemaak. Die Klippaat Senior Sekondêre skool het Woensdag 15 Maart oopgemaak nadat Jaftha die vorige dag met die bestuur van die skool ontmoet het.
'Ons bring jou die nuutste Klipplaat, Karoo nuus'