GRAAFF-REINET NUUS - Buitebande het gebrand en paaie is uit protes met klippe versper, toe Klipplaat-inwoners Maandagoggend betoog het teen die prosedures en toekenning van padwerk-tenders.
Betogers het emmers vol menslike afval voor die Dr Beyers Naudé se munispale gebou op die dorp gegooi, omdat hulle ongelukkig is oor die aanstelling van werkers vir padwerke tussen Baroe en Klipplaat.
Toegang tot die dorp moes noodgedwonge tot-en-met Dinsdagoggend gesluit word, en 'n sterk polisieteenwoordigheid is gehandhaaf.
Godfrey Saki, 'n gemeenskapsleier wat deel van die protes was, het Dinsdag aan die Advertiser gesê die betogers staak vir eers hul protes, in afwagting van beloftes wat die munisipaliteit tydens 'n vergadering met die betogers gemaak het. Dit is nie duidelik wat hierdie beloftes was nie, en of dit wel gemaak is nie.
Die munisipaliteit het wel gesê dat hulle die ontevrede inwoners se klagtes sal ondersoek en met 'n werkbare plan na vore sal kom.
Volgens plaaslike polisiewoordvoerder, kaptein Bradley Rawlinson, was daar teen Dinsdag geen kriminele klagtes teen die betogers gemaak nie. Hy dra ook nie kennis van enige beserings nie.
Toegang tot die dorp moes noodgedwonge tot-en-met Dinsdagoggend gesluit word.
Die pad tussen Baroe en Klipplaat soos dit Maandag en Dinsdag versper is.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'