HOFMEYR NUUS - Met die huidige toedrag van sake in ons land, en die strande wat nie Desember toeganklik gaan wees vir besoekers nie, wonder baie ouers hoe hulle die lang Desembervakansie hul kleingoed gaan besig hou.
Veiligheid kom egter altyd eerste, en dalk is veilig speel die jaar die beste opsie.
Nou is die tyd dat die kleinspan hulle eie kaartjies maak, Kersgeskenke toedraai, Kersfeeskonserte tuis hou, en lekker speel in ouma en mamma se ou aandklere. Boeta kan selfs met oupa se plaasstewels en waterstewels buite speel en ’n paar damme om die kraan bou.
Hoewel ouers dikwels voel hulle verdien ’n seevakansie, is dit die liefde en sorg en die teenwoordigheid van beide hul ouers en soms ook grootouers, wat vir hulle vakansie spel. Heel spoedig sal daar weer vakansies by die see gehou kan word. En vir diegene wat wel die lang pad see toe aanpak, pak dan ook die fietse en die balle saam in.
Dalk is 2020 nou net die jaar om ’n onvergeetlike Kersvakansie te hou, wat niemand ooit sal vergeet nie. Talle gesinne het reeds hul vakansiebesprekings gekanselleer en voel hartseer om met Jan Tuisbly se karretjie tuis te sit. Maar benader liefs elke dag soos ’n vakansiedag, by die see of te not, en maak van hierdie Kersvakansie ’n Kersfeesvakansie.
Bowenal, herinner tog net vir Kersvader dat die adres vir aflewerings hierdie jaar die gewone tuisadres is, en nie die huisie by die see soos ander jare nie. En aan diegene wat nou ’n vreemde, andersoortige vakansie langs die verbode strande geniet, maak gebruik van die kans om plekke te besoek waarvoor daar nooit tyd is wanneer julle elke dag heerlik langs die see op die sand verbruin nie.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'