Gallery Video
GRAAFF-REINET NUUS EN VIDEO - Graaff-Reinet se unieke fietsryklub en dié se unieke fietse is in die kollig nadat die joernaalprogram, Kwêla, die Karoodorp besoek het om hulle te verfilm.
Die Advertiser het in Januarie vertel hoe Maxwell Jaftha, stigter van dié klub, unieke fietse bou, en deur werkskepping en 'n naweekklub hoop om jong mense in sy gemeenskap te help.
Gemeenskapslede het die groep se inisiatief raakgesien en Kwêla geskakel om 'n draai te kom maak. Jaftha en sy span het by The Village vir omroeper Therese Bam en haar kameraspan gewys hoe hulle hierdie unieke fietse bou.
Daarna het die span na Camdeboo Spar vertrek, waar sowat 60 fietsryers hulle ingewag het. Daar het senior bestuurder Werner Marx en sy span gesorg vir iets om te eet en te drink. 'n Verskeidenheid stalletjies is ook opgerig.
Fotogalery: Kwêla kuier in die Karoo
Na die bederf is die Hood Riders op 'n massa-fietsrit om die NG Kerk en terug.
Kyk 'n video hieronder:
Volgens Luzane Plaatjies, 'n Hood Rider-lid, is sy droom om eendag sy eie fietswinkel oop te maak. Hy het vir Kwêla vertel dat die klub hom uit die kwaad hou. "Ons is soos 'n familie, en geniet dit om naweke te ry. My fiets is soos my baba."
Die program sal waarskynlik op 22 Maart op kykNet uitgesaai word, maar dit moet nog bevestig word.
Lede van die Hood Riders en omstanders bekyk die unieke fietse. Foto's: Christo Vermaak.
Owen Marx op een van die Hood Riders se fietse.
Therese Bam, Kwêla omroeper.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'