Video
GRAAFF-REINET NUUS & VIDEO - Moedersdag het vanjaar 'n ekstra spesiale betekenis gekry vir Ilze Nel toe haar 12-jarige dogter, Marlie, haar met 'n bloes verras het wat sy eiehandig gemaak het.
Corrie van Zyl van Graaff-Reinet Advertiser het toevallig by Riana van Niekerk van Bright Light Idees ingestap toe sy op die mooi toneel afkom. Sy sê dit was aandoenlik om te sien hoe handig Marlie dié bloes met 'n ouerige Bernina-naaimasjien aanmekaarstik.
"Maar toe sy die omkapmasjien, wat amper net so groot soos Marlie is, nader trek, begin die traankliere lek. Dit was kosbaar."
Marlie wou graag iets spesiaals vir haar ma maak vir Moedersdag en het by Riana gaan inloer vir hulp en raad.
Noudat skole nie meer naaldwerk as vak aanbied nie, is veral jonger kinders op iemand soos Riana aangewese om hul touwys te maak. En dit doen sy met 'n aansteeklike entoesiasme.
Marlie, 'n leerder by Laer Volkskool, het self die materiaal, onder die wakende oog van Riana, uitgeknip en toe begin stik. En sy was ewe handig met die spelde, sê Corrie.
Kyk 'n video hieronder.
Die bloes het heelwat langer geneem om te voltooi, maar teen vieruur Vrydagmiddag kon sy haar handewerk saam met Riana bewonder.
En siedaar, 'n Moedersdag wat ma Ilze sekerlik nie sal vergeet nie, maar daaroor sprak sy g'n sprook nie!
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'