CRADOCK NUUS - Op die eerste skooldag is die ingang na 'n koshuis waar graadeens vir die eerste keer ingeskryf word, dikwels die plek waar die hartseer doodstil in die lug hang. Want, as een begin huil, gaan almal begin huil.
Dit vat 'n spesiale ouerpaar, wat ver van 'n skool bly, om hul kinders met die nodige insig en standvastigheid groot te maak, sodat die kleinspan weet hoekom en waarom hul koshuis toe moet gaan.
Die Advertiser het Vrydag 19 Januarie met klein Kari Michau by Huis Joubert, die koshuis van Cradock Voorbereidingskool, gesels nadat sy reeds vir 'n paar dae in die koshuis was, en was verstom oor hoe sy die vrae hanteer en beantwoord het.
"Wat vir my lekker is by die koshuis is die baie maatjies wat ek het. Ons kry ook baie kos wat baie lekker is. By ons koshuis is daar lekker speelplekke.
"Die koshuis is ook lekker naby die skool en my kamermaatjie is my heel beste maatjie, by die skool ook. Ons twee help mekaar in die oggende om betyds klaar te maak vir skool. Ons is baie lief vir mekaar," vertel Kari.
"Wanneer ek by die huis is, speel ek graag met my boetie en my babasussie. By die skool het ek 'n baie oulike juffrou wat ons leer om te luister, te leer en te lees en skryf. Sy gee vir ons hartjieplakkers en as ons vyf hartjieplakkers het, mag ons iets uit haar bederflaai kies.
"Ek kan nie wag om te sien wat alles in daardie laai is nie. Wanneer ons vyf goedjies uit die bederflaai gekry het, dan bel juffrou ons mamma, sodat mamma weet hoe goed ons is. Ons is baie gelukkig," borrel klein Kari.
"Dis nooit maklik vir 'n ouer om hul kind in 'n koshuis te sit nie," sê Kari se ma, Marelize.
"Maar ek en haar pa was beide koshuisleerders, en ons weet dat hierdie vir Kari die beste is. 'n Koshuiskind moet net vroeër leer om haar man te staan. Sy weet ons is altyd beskikbaar as daar enige krisis in haar lewe is."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’