RUBRIEK - Ek het 'n dilemma – 'n hegte vriendskap het ontspoor. Ek het Klaas Niemandt reeds vertel van my diepe teleurstelling in die gewaande vriend, dat ek nie weet hoe om die onmin te hanteer nie en die ergste, die vermorste aandag, tyd en energie. Klaas se antwoord was: "Kom drink koffie."
Hy klop my teen die blad en groet met die woorde: "Jaaa, troetel 'n adder aan jou bors, maar verbrysel jou eie kop wanneer hy jou pik, né."
"Kyk, mense vandag reken mos 'n man moenie net onderskei tussen slang en mens nie. Nee, jy moet ook onderskei tussen giftige slange en nie-giftige slange. Die mens moet tog net nie iets aan 'n vriendelike slang doen nie – party hou hulle sommer aan as troeteldiere ... asof 'n slang gemaak is om aangehou te word. En giftige slange moet deur slangvangers elders vrygelaat word, want die mens het mos eintlik die slang se spasie oorgeneem. Niks fout daarmee nie, hoor. Maar waag jy as slang-leek dit om 'n slang in jou eie huis te laat les opsê, en die einde van die galbraak sal jy nie beleef nie.
"Nou hierin lê die probleem: 'n slang is gemaak om te pik. Ja-ja, daar sal uitsonderings wees – die algemene norm se bestaansreg is juis immers te danke aan uitsonderings - maar ons praat nie nou van uitsonderings nie.
Punt is, 'n slang sal op een of ander stadium pik – giftig of nie giftig nie. Dis sy aard en natuur; hy kan mos nie help dat hy so aanmekaar gesit is nie. Die mens moet besluit hoe hy teenoor slange optree.
En dis hoe dit is met jou vriendskap-probleem. Jy moet leer om te onderskei tussen mense wat soos slange is; en die wat nie so is nie.
"Dan moet jy weet JY is g'n slangkenner nie. Die slang maak maar net soos hy gemaak is om te maak. 'n Slang is gemaak met sy gif en sy gif is nie giftig vir homself nie; dis net deel van hom – nes sy gepik- of gespoegery, man.
Maar jý, mens, jý moet van beter weet. Die ding van onderskei tussen die-soort-vriendelike slang en daai-soort-giftige slang is nie vir elkeen nie, hoor! Vat nou maar 'n rinkhals – dis sy aard en natuur om eers dood te speel.
Maar kom te naby aan hom, dan kyk jy hoe blitsig spring sy kop regop en maak hy kapel, wys sy twee wit rinkhalsstrepe vir jou en volgende ding pik hy.
Mosambiekse kobra – die Mfezi – hy kom regop, maak bakkop en spoeg vir jou sekuur in jou twee oë nog voor jy hulle kan knip! Ons dink maklik 'n swartmamba moet swart wees – hy is nie; sy bek binnekant is swart. Net so is nie alle boomslange groen nie; die wyfie is bruin.
"Wat ek vir jou sê – nie almal wat goed en gaaf klink met eerste kennismaking, is goed en gaaf van nature nie. Nie almal wat lief en dierbaar is om jou etenstafel, is lief en dierbaar buite jou hekke nie. Mense het ook 'n aard en natuur. Sien, respekteer en aanvaar mense vir wie hulle is. Maar weet party speel dood voor hulle pik. Maak jou vriendelikheid goedkoop, maar hou jou vriendskap duur. As jy jou misreken het, wees kwaad en teleurgesteld, maar wees dit vir jouself; nie vir die ander een wat maar getrou is aan sy natuur nie."
Oom Klaas rus 'n oomblik sy hand op my skouer, glimlag half: "Slang se kind ... pasop!"
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'