RUBRIEK - Vra vir Klaas Niemandt na sy gedagtes oor menseregte en hy antwoord rustig: "Regte - menseregte ook - is maar soos die positiewe pool op 'n battery, jong. Positief en vol mooi rooi belofte, nogal met 'n plusteken aangedui. Maar beteken weinig sonder die neutrale/negatiewe pool; en algeheel niks sonder die korrekte verbinding nie."
Oom Klaas kyk vir 'n oomblik stil in die verte - asof sy oë binne-toe, in sy eie siel in, kyk...
"Vanmelewe toe Goue Lokkies (Klaas se kleindogter) by die skool gehoor het van 'menseregte' en veral 'kinderregte' - sy was toe so 14 - het sy gereeld vir my en Dina vertel dat haar ouers 'nie haar regte respekteer nie'; of dat sy 'op die of daai geregtig is'.
Uiteindelik raak sy toe so bekkig dat selfs ons moes hoor ons mag nie sus of so met haar praat of haar behandel nie, want ons 'skend haar menseregte'!
"Op 'n dag had ek genoeg van die meisiekind se nuutgevonde skool-wysheid. Sy is toe net mooi op die ouderdom waar ek haar begin leer bestuur het hier op die werf.
Ek ontkoppel toe die bakkie se battery net voordat ons weer 'n bestuurles het. Toe dit tyd is, klim sy in en probeer die bakkie aanskakel. Sy het net nie die sleutel morsaf gedraai nie: mos niks!
"Ek beduie haar toe sy moet maar die enjinkap oplig en loop kyk of die battery gekoppel is. Natuurlik hoor ek mos toe die pole is ontkoppel. Loop staan ek langs haar: 'Sien jy, dié battery is soos hierdie land se Grondwet. Propvol krag, oftewel regte, maar dis al wat dit is: dis propvol. Potensiaal. Op sy eie soos hy daar staan, doen hy sweet boggerôl – NIKS. Kan jy sien hier is 'n pool gemerk met 'n rooi plus en daar, op die ander punt, is een gemerk met 'n minus? Nou toe, wat reken jy moet jy doen om die bakkie te laat start?'
"Te verwagte het sy gereken hoe rooier hoe mooier – sy moet net die rooi kabel aan die + (positiewe) pool koppel en voila, dan is daar vuur en krag!
"Maar toe nou nie, né.
"Dis waar ek haar sê: 'Briek nou net so 'n bietjie. Onthou, vir elke positief in die lewe is daar 'n ooreenstemmende negatief. En jy kan maar vergeet om die battery te laat werk as jy nie beide kabels koppel aan die ooreenstemmende pole nie. Net so: vir elke reg wat 'n mens het, is daar 'n ooreenstemmende verpligting. En ja, Meisiekind, jy is reg: jy het vele regte – net soveel soos jy wil. Maar begryp: hoe meer menseregte jy op aanspraak maak, hoe meer verpligtinge lê jy jouself op.
'As jy as mens geregtig is om respekvol behandel te word, moet jy self die verpligting opneem om ander respekvol te behandel. Jy het inderdaad die reg om begryp, verstaan en waardeer te word, maar so het elke ander mens ook – wat beteken dis jou verpligting om ander te begryp, verstaan en waardeer. Jy het die reg op lewe, maar insgelyks het jy die verpligting om 'n ander se reg tot lewe te eer. Versaak jou verpligting, en jy breek die stroom – hoekom sal 'n ander dan nog jou reg eer?
'Daarin lê die geheim: elke een mens se menseregte word staande gehou deur elke ander mense se menseverpligtinge.'"
Klaas glimlag by die oproep van dié herinnering: "Jaaa, ek moet sê ons het nie daai dag bakkie bestuur nie, maar die harmonie was herstel."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’