RUBRIEK - Oom Klaas Niemandt sit alreeds op sy klip toe ek opdaag vir my koffie-kuier. Hy lyk vandag al asof hy skoon onderstebo kan wees – troebel. Ons sit vir 'n oomblik in stilte in die stokou peperboom se skaduwee; waardeer die Karoo se groen jas ná goeie reën. Uit die bloute sê hy:
"Jong, ek moet nog 'n haai sien wat 'n baaier op die strand agternasit."
Ek is uit die veld geslaan – in geen gedagte het ek al ooit vir Klaas Niemandt en "strand" of "see" in een gedagte gedink nie. Wat sou hom nou daaraan kon laat dink?
"Nee, ek meen nou maar ... so van tyd tot tyd hoor of lees 'n man mos van 'n haai-aanval by die of daai vakansie-strand.
"Maar dis mos twak; dis sensasie!
"Waarheid is: die mens, gemaak met voete en bene om mee te loop, loop foeter in 'n ding in wat hy nie voor gemaak is nie – die see. Wys jy my die mens wat gemaak is met skubbe en vinne in stede van voete en bene.
"Die haai klim mos nie uit die see se soutwater uit en loop kiertsregop op die strand se sand en soek 'n mens om aan te val nie? Die haai is maar in die water – waar hy hoort.
Dis die mens wat in die haai se plek loop ingaan en dan kerm hy agterná as die haai hom gehap het.
"Maar dis nie wat ons mekaar vertel nie. Ons vertel mekaar 'n haai het 'n mens aangeval.
"Vat daai masjien van jou wat so alles vertel (hy beduie na my selfoon); dan vra jy daar vir hom oor haai-aanvalle by die strand – vra hom sommer in Ingels ook; dan kyk jy wat hy jou vertel. 'Haai val man by strand aan' – dis wat jy sal lees.
"Want dit gaan oor sensasie, sien jy. En sensasie is verslawend. Die ding van verslawing: jy het nie net immer NOG nodig nie – omdat jy gewoond raak, het jy immer MEER en STERKER nodig. Dis so met woorde en gebeure ook – met nuus. En dan is dit waar die waarheid dikwels in die slag bly.
In 'n afgestompte wêreld, oorvoed aan sensasie-skok, is die waarheid dikwels eenvoudig net te saai.
"Nee wat man, woorde het mos darem betekenis. En dis nie net die woorde en hulle betekenis nie; dis die invloed daarvan. Waar die haai eintlik net optree volgens verwagting, het dit geraak dat die haai die aanvaller is en die mens die slagoffer. Want sensasie leer ons dat haaie mense by strande aanval ..."
Oom Klaas se laaste woorde kwyn weg in die Karoo-hitte. Dis asof ek nie eers by hom is nie; vasgevang in sy eie gedagtes nou. Maar ek dink tog ek het hom iets hoor sê oor "... soos huismense wat dan nou in hulle se eie huise inbrekers aanval".
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'