KAROO NUUS - Kirkwood Wildsfees vier hierdie naweek hulle twintigste bestaansjaar. Volgens Jenni Honsbein, feesdirekteur van dié fees, is hulle slaggereed om duisende besoekers op die hande te dra en 'n onvergeetlike fees aan te bied.
Die fees vind van Vrydag 30 Junie tot Sondag 2 Julie plaas en weervoorspellers is optimisties dat vanjaar se fees onder 'n helder, oop Karoohemel gaan plaasvind.
Honsbein vertel dat die organiseerders 'n bietjie met die wind en reën geworstel het om die tente vir die meer as 300 spesialisstalletjies op te slaan, maar des ondanks is elke tentpen ingeslaan en iedere paal kierts regop.
Vir 'n volle drie dae sal die Rietberg wat die dorpie Kirkwood omraam, weerklink met lirieke, tromme en kitaarsnare van 25 van Suid-Afrika se topmusikante.
Vrydag se makietie begin met die sangers Wonderboom, Loufi en Hemels Fantasties; Saterdag is Jan Blou Kaas, Loukman Adams en Band sowel as Snotkop voor in die koor; en Sondag sal Majozi, Watershed en Fatman feesgangers vermaak.
Vir die jongklomp is daar 'n Fun4U-speelpark en die adrenalienverslaafdes kan solank regmaak om te gaan rekspring. Virtuele wildritte met SANParks is ook deel van die opwinding wat voorlê.
Die paviljoen is ook die tuiste van 'n Boerboel-wysiging terwyl die gewilde en skreeusnaakse Oos-Kaapse koedoedrol-verspoeg-kampioenskappe met Wicus van der Merwe Saterdag plaas vind.
"Plaaslike inwoners en besoekers van regoor die land kom na die Wildsfees om ou vriendskappe te hernu en die winterblues af te skud," sê Honsbein.
Vir meer inligting besoek www.wildsfees.co.za.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’