ABERDEEN NUUS — Verlede week het die Aberdeen VLV-lede die kindertjies van die Bambino Sopkombuis in Aberdeen verras met ‘n Kersparty.
Daar is vooraf sakkies lekkers, skyfies en gemmerkerskoekies verpak, springmielies geskiet en verpak, balonne en stokkielekkers gekoop en koeke gebak. Al die lekkernye is saam met sap in prettige glasies aan die kindertjies gegee in ‘n saal op die dorp.
Van die lede se kinders het ook gehelp met voorbereidings en het die dag bygewoon.
Leonie Bedaar en Jane Saayman, die twee dames wat die sopkombuis uit hulle eie huise bedryf, het die dames verwelkom waarna die kinders met die Onse Vader gebed die byeenkoms geopen het. Een van die seuns het ‘n gedig voorgelees waarna Annalie Lategan die Kersverhaal aan die kinders vertel het en ook vir elkeen ‘n prent gegee om in te kleur met kryte en potlode wat sy verskaf het.
Die kinders se opgewondenheid en dankbare gesiggies sal almal wat die dag bygewoon het nog lank bybly.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'