Update
GRAAFF-REINET NUUS - Dit gaan goed met die hoenders wat 'n maand gelede deur Carlin Raath, die bestuurder van Graaff-Reinet Animal Welfare Society (GRAWS), van 'n gewisse hongerdood gered is.
In 'n skokkende voorval van dieremishandeling is 500 hoenders aan hulle eie genade in hokke oorgelaat en was so lank sonder kos dat 330 dood is van die honger.
Raath het 170 gered, maar nog 10 was te swak en het dit nie gemaak nie. Die oorblywende 160 sterk egter goed aan en is steeds by GRAWS in Graaff-Reinet.
"Ons het Vrydag die eerste eier gekry so ons is baie opgewonde," vertel sy. "Dit is miskien net een eier, maar dit is 'n baie goeie teken. Die hoenders se gesondheid is definitief besig om te verbeter."
Die hoenders sal voorlopig by GRAWS bly. "Hulle doen verskriklik goed en is so gelukkig. Ons het nou al so gewoond geraak aan hulle," sê Raath. "Indien dit in die toekoms te duur word om hulle te voer, sal ons dalk van hulle verkoop, maar vir nou bly hulle net hier waar hulle is."
GRAWS sal beslis nie toelaat dat die hoenders teruggaan na die vorige eienaars nie.
Die hoenders het aan 'n plaaslike Community Works Programme (CWP)-projek behoort waarvan die Southern African Youth Movement (SAYM) die implemeteringsagent was, "Ons het niks weer van CWP gehoor nie. Hulle was een dag hier, maar het nie teruggekom nie," sê Raath.
"Wat ons aanbetref is alles uitgesorteer en afgehandel. Die hoenders gaan beslis nie terug na die projek nie."
Raath sê dat hulle nie 'n saak teen CWP gemaak het nie, maar dat hulle wel 'n saak sal maak indien so iets weer gebeur. "Dit wat hier gebeur het mag nooit weer gebeur nie. Van nou af sal ons hulle met 'n arendsoog dophou. Ons is ook in kontak met ander organisasies wat dophou wat in ander plekke aangaan," sê sy.
"Mense in beheer van projekte waar diere betrokke is moet weet dat ons hulle onder die oog het en ons glo dat die gemeenskap ons ook sal help om hulle onder oog te hou."
Die eerste eier...
Vorige artikel: Projek 'n hoenderhel
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’