Video
KAROONUUS EN VIDEO - Satansbos (silverleaf nightshade, Solanum Elaeagnifolium CAV) kom in Steynsburg, Hofmeyr en Molteno en distrikte voor. Dit is algemeen in informele nedersettings, en alle areas waarheen diere vanuit besmette gebiede beweeg. Die skouterrein, veilingskrale asook waterpunte is ideale verspreidingsgebiede.
Satansbos is 'n uitheemse indringerplant wat vinnig kan versprei en mettertyd alle ander plantegroei vernietig.
Die onkruid vestig maklik op versteurde grond in die Karoo en versprei vandaar maklik na landerye.
Die tydskrif, Landbouweekblad van 5 November 2019, berig oor die bos en sê dat die Satansbos kragtens die Wet op Bewaring van Landbouhulpbronne (Wet 43 van 1983) as 'n kategorie een onkruid verklaar is. Oral waar dit voorkom moet dit bestry word.
Dit is egter baie moeilik omdat die plant se wortelstelsel nie na die somer vrek nie. Die wortelstelsel beslaan 80% van die plant en uit die wortelstelsel spruit daar talle nuwe lote. Die wortelstelsel is tot 20 m wyd en tot 3 m diep. Geen nabygeleë plantegroei hou enige bedreiging in vir dié indringer nie.
Boere vanuit die Hofmeyr-distrik sê dat die plant deur saad na versteurde grond versprei, en sodra die plant geknak of beskadig word, vorm nuwe plante wat sterk groei. Diere benut ook nie die plante as voeding nie, maar dra by tot die verspreiding. Mense en diere wat vanaf "besmette" informele nedersettings na plase reis, dra ook by tot die besmetting.
Chemiese beheer
Die Advertiser het in 2019 oor die bos berig. Na aanleiding van inligting verskaf deur Grootfontein Landboukollege is die bos in 1952 vir die eerste keer amptelik rondom Jansenville en Graaff Reinet aangeteken.
Die bos is vermoedelik saam met voer wat vir perde tydens die Anglo Boereoorlog ingevoer is na dié distrikte vanaf Argentinië in die land ingebring waar dit oorleef in halfwoestynagtige gebiede.
Chemiese beheer word gebruik, asook verskeie metodes om die plante se uitgebreide wortelstelsels uit te roei. Indien chemiese beheer nie gereeld opgevolg word nie, word die uitgebreide wortelstelsels nie vernietig nie. Meganiese vernietiging van wortelstelsels is slegs suksesvol as geen gedeelte van die wortelstelsel agtergelaat word nie.
Kewers
Verskeie boere vanuit die Hofmeyr- en Steynsburg-distrikte het die afgelope week met behulp van Werk vir Water, in Uitenhage, toegang verkry tot 'n besending Satansbos-blaargroeibeheerkewers.
Hierdie voorafverpakte kewers is die afgelope naweek vrygelaat op verskeie plase waar besmetting voorkom.
"Op vlaktes pas ek chemiese beheer toe, maar in beboste areas waar daar nie toegang is nie, het ons die kewers vrygelaat," sê Shane Scorgie van Culmstock.
"Op Elandskuil pas ons voortdurende beheer en bestuur toe om verspreiding te beperk," vertel Gerhard Bekker.
VIDEO - Satansbos word biologies beheer:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’