KAROO NUUS - Suid-Afrika het so pas lamsvleis van die droë sentrale Karoostreek vir beskerming onder Geografiese Aanduiding-status geregistreer.
Vleissnitte van jong skape wat onder vrylopende en organiese toestande geproduseer word, sal op die naam "Karoolam" kan aanspraak maak, het die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling Vrydag in die Staatskoerant bekend-gemaak.
Hierdie vleis het baie spesifieke aromatiese en sensoriese eienskappe, wat direk toegeskryf kan word aan die kruidagtige plante wat natuurlik in die area groei. Lamsvleis vanuit verskillende Karoo-areas het selfs elk sy eie kruidagtige smaak.
"Hierdie registrasie sal dus aan Karoolam dieselfde beskerming gee as produkte soos Parmaham en Champagne wat in 'n spesifieke geografiese gebied geproduseer word," sê Charles Erasmus, uitvoerende bestuurder by die Karoo Lamb Consortium, 'n nie-winsgewende organisasie wat gewerk het om empiriese bewyse in te samel en wetenskaplike bevestiging te verkry van die verband tussen dié vleis en die Karoostreek.
"Die realiteit van hierdie registrasie is dat dit uiteindelik moontlik sal wees om Karoolam teen 'n premie bo ander lamvleisprodukte te bemark en te verkoop. Die volgende stap is dat die Suid-Afrikaanse regering dié registrasie vir beskerming by die Europese Unie indien," het Johann Kirsten, direkteur van die Stellenbosch-gebaseerde Buro vir Ekonomiese Ondersoek, gesê.
Troepie Pienaar, 'n Konsortium Merino-teler vanuit die Hofmeyrdistrik, sê hy is verheug dat Karoolam 'n unieke status kry want dit is immers 'n unieke produk, met 'n kenmerkende smaak.
"Hierdie unieke vleistipe, wat hier in ons eie omgewing geproduseer word, moet sy unieke status besit waarop daar geroem kan word."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’